Die Menseregtekommissie (MRK) het Vrydag met ʼn afvaardiging van Clicks vergader na aanleiding van die herrie oor sy beweerde rassistiese advertensie.
Die vergadering is deur die MRK versoek aangesien die Clicks-advertensie volgens die kommissie strydig is met die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie.
Volgens Gushwell Brooks, woordvoerder van die MRK, het Vikesh Ramsunder, uitvoerende hoof van Clicks, tydens die vergadering weer om verskoning gevra vir die voorval. “Hy het presies verduidelik hoe die advertensie, wat deur ʼn derde party geskep is, uiteindelik op Clicks se webwerf geplaas is en ook besonderhede gegee oor maatreëls wat ingestel sal word om ʼn herhaalde oortreding te voorkom.”
Daar is tydens die vergadering gesê dat alle Clicks-werknemers, en spesifiek die bestuur, transformasie-opleiding sal ondergaan. “Ramsunder het hom daartoe verbind om Clicks se verskaffers by sy transformasie-agenda te betrek in ʼn poging om te verseker dat geen ongevoelige advertensies in die toekoms geskep en geplaas word nie.”
Clicks het verder onderneem om alle interne dokumente oor transformasie beskikbaar te stel, asook die maatreëls wat die maatskappy vorentoe sal instel. Die MRK sal egter wel voortgaan om met Clicks in verbinding te bly. “Dit sluit in die hersiening van Clicks se huidige beleid wat handel oor diversiteit en inklusiwiteit, asook prosedures om te bepaal watter inhoud is grondwetlik voldoende.”
Clicks het ook Donderdag met Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, en haar departement vergader.
Volgens die departement het Ramsunder tydens dié vergadering onderneem om besteding aan klein, mikro- en medium ondernemings te verhoog en plaaslike skoonheids- en haarversorgingshandelsname en ander produkte te ondersteun.
Ntshavheni het opgemerk dat Clicks se voorkeurverkrygingsbesteding op groot en gevestigde maatskappye fokus, maar nie volledig bemagtigde maatskappye insluit en bydra tot die bou van ʼn inklusiewe ekonomie nie.
Die minister het voorts gesê haar departement sal Clicks help om te fokus op ondernemings wat deur swart mense, vroue, die jeug en gestremde mense besit word.
Die departement en Clicks het ʼn werkspan in die lewe geroep om die inwerkingstellingsplan te finaliseer, asook die vordering op spesifieke fokusgebiede te monitor.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
30 Kommentare
Clicks is doelbewus totaal gekaap deur die ANC boewebende dmv afpersing. Terloops die bestaan van die Dept van Kleinsake(natuurlik swart alleenlik) is helemal onnodig en geldmors!!!
Pot snot
‘n Naam soosVikesh Ramsunder klink vir my klaar baie getransformeer. Nou wonder ek hoeveel witmense by die advertensie betrokke was. Clicks is ook ‘n BEE maatskappy. Die hele gedoente word ‘n afpersingsaangeleentheid.
Huh? Wat moet Clicks nog doen om jammer te se, wat hulle nie in die eerste plek moes gedoen het nie.
Welkom in die land van hand poppe en narre waar iemand se sellfbeeld afhang( of is dit nou opstaan) van ‘n feitelik waarneming van jou hare?