Clicks neem Pick n Pay-apteke oor

clicks-groep

(Argieffoto: Clicksgroup.co.za)

Die winkelgroep Clicks het Maandag aangekondig hy neem al 25 apteke in Pick n Pay-winkels oor. Dié apteke gaan voortaan onder Clicks se vaandel in die winkels sake doen.

Clicks is die grootste kleinhandelapteeknetwerk in Suid-Afrika en die verkryging sal sy nasionale teenwoordigheid tot 632 apteke verhoog.

Luidens ʼn gesamentlike verklaring van die twee maatskappye sal Clicks alle apteeklisensies en medisynevoorraad oorneem. Alle werkers by die apteke word van Pick n Pay na Clicks oorgeplaas.

Vikesh Ramsunder, uitvoerende hoof van die Clicks-groep, sê verkryging van die apteke versnel die strategie om die gerief en toeganklikheid van die Clicks-apteeknetwerk uit te brei.

“Altesame 50% van die land se bevolking woon binne ʼn radius van 6 km van ʼn Clicks-apteek en ons hoop om dit mettertyd selfs verder te verbeter om nader aan klante te wees,” sê Ramsunder.

“Ons verwelkom die geleentheid om ons ondervinding in kleinhandelapteke na Pick n Pay-klante uit te brei.”

Adrian Naude, bedryfshoof van Pick n Pay, sê die winkelgroep het die afgelope paar jaar betreklik min apteke gehad. Die maatskappy het onlangs sy sleuteldoelwitte in terme van toekomstige groei uitgestippel en dié doelwitte het nie die ontwikkeling van ʼn groot apteekafdeling ingesluit nie.

“Ons hoofdoelwit met die oordrag van die apteke is gedoen om te verseker dat daar ʼn naatlose oorgang vir ons klante is en die gehalte van diens waaraan hulle gewoond is, gehandhaaf word,” sê Naude.

Volgens hom wou Pick n Pay ook verseker dat daar na sy personeel omgesien word en die ooreenkoms met Clicks voldoen aan albei hierdie vereistes.

Die voorgestelde transaksie is onderworpe aan goedkeuring deur die mededinging- en regulatoriese owerheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan ·

Ek het nie eers geweet Pick n pay het Apteke nie. Nie een Pick n Pay waar ek al was het ‘n Apteek nie

Anel ·

Gelukkig maak ek gebruik van apteek naby my. Het een kerr Clicks probeer en besluit nooit weer. Kry eerder dan mesisyne by veearts. So van onbevoegdheid het ek nooit gesien nie. Geen apteker. Slegs assistente. Veder sê ek maar niks. Sterkte aan mense wat nie anders kan nie as om van hulle te moet gebruik maak.

Ann ·

Nie alle Clicks-apteke is gelukkig dieselfde nie. Hier by ons is daar 3 aptekers elke dag op die vloer en altyd hulpvaardig.

Andrew ·

hulpvaardig na jy twee ure lank in n ry gestaan het. Ek verkies ook n meer persoonlike verhouding met my apteker.

Elize ·

awesome, hoopenlik stel hulle nie teleur nie deesdae het PicknPay se apteke nie eers VitC

Sarel ·

Clicks moet net hulle dienslewering opskerp. Ek het van Clicks af weg beweeg a.g.v. die houding fn dienslewering van Personeel en beveel tans ook niemand aan om van hulle gebruik te maak nie

Martie ·

Ek klim eerder Everest uit as wat ek ‘n voorskrif by ‘n Clicks apteek ingee. Dit sal nog vinniger gaan as om vir jou medisyne by ‘n Clicks apteek te wag.

Wakkerslaper ·

…vermy PnP soos die dood. Bitter vuil en deurmekaar winkels en dié wat verondestel is om aan diens te wees sit rond en maak die meeste grappies, geselsies en lawaai in die winkel…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.