Clicks se bestuurshoof tree ná 13 jaar uit

clicks-groep

Foto: Clicksgroup.co.za

Die bestuurshoof van die gesondheids- en skoonheidsgroep Clicks, David Kneale, gaan ná 13 jaar se diens uittree. Clicks sê sy bedryfshoof, Vikesh Ramsunder, gaan by Kneale oorneem. Die 63-jarige Kneale sal tot Augustus 2019 as spesiale adviseur aanbly om Ramsunder te ondersteun.

Clicks se markwaarde beloop tans R46 miljard. Sy aandeelprys het gister ná die nuus met tot 3% gewankel. Clicks ding direk mee met Dis-Chem in die skoonheid- en gesondheidsorgmark.

Ramsunder, wat in 1993 by Clicks aangestel is, het in verskeie rolle opgetree tot hy bedryfshoof geword het. Clicks se voorsitter, David Nurek, het Kneale bedank vir sy rol om Clicks uit te brei. Hy was optimisties dat Ramsunder die ervaring het om Clicks na nuwe hoogtes te neem.

In ander maatskappynuus het die privaat hospitaalgroep Life Healthcare sy belang in Max Healthcare vir R4,3 miljard verkoop aan die globale beleggingsfirma KKR & Co. Life Healthcare sê hy sluit nie ʼn terugkeer na Indië uit nie. Shrey Viranna, Life Healthcare se bestuurshoof, sê oor die langtermyn bied Indië opwindende geleenthede. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika en Europa steeds die groep se strategiese fokus is weens die beleggings wat daar gemaak is.

Dan het die aandeelprys van die mobieletelefoonnetwerk MTN die week op ʼn positiewe noot afgesluit. Dit was die beste sluiting in bykans twee weke. Dit volg nadat die maatskappy en die Nigeriese sentrale bank ooreengekom het om saam te werk om ʼn geskikte oplossing vir die huidige krisis wat MTN in Nigerië beduiwel, te vind.

Die sentrale bank het MTN in Augustus daarvan beskuldig dat $8,1 miljard se dividende onwettig uit die land repatrieer het. MTN het hierteen vasgeskop. Kenners het ook gewaarsku dat Nigerië se halsstarrige houding jeens MTN hom van buitelandse beleggers kan weerhou.

Die geval oor die dividend-uitbetalings het egter wyer uitgekring en vier banke, insluitend Standard Bank, is beboet.

Tog het die sentrale bank, wat die krisis gedryf het, aangekondig dat hy ʼn bevredigende oplossing soek. Sedert die bank se aankondiging het MTN se aandeelprys tot onder R70 gedaal. Dit het verlede week tot bo R78 per aandeel herstel.

Die aanslag op MTN het verskerp. Twee weke ná die sentrale bank se aankondiging het die prokureurgeneraal aangekondig dat MTN $2 miljard in onbetaalde belasting skuld. Die sentrale bank het Woensdag aangekondig dat hy in gesprek getree het met MTN en sy vier bankvennote. Volgens die bank het hy bykomende inligting bekom wat tans hersien word om ’n geskikte oplossing te vind.

Sedert die sentrale bank die aantyging gemaak het, het MTN voet by stuk gehou dat alle dividendbetalings wettig geskied het. Die groep het die geval na sy prokureurs verwys vir moontlike regsoptrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaco ·

Ek kan verstaan dat die wit man moet uit NET omdat hy wit is (dis mos maar die ewige “straf” vir apartheid), maar dis vreemd dat hy met ‘n Indiër vervang word. Ek weet van talle gevalle met werksaansoeke waar Indiërs en Kleurlinge moet hoor “sorry no job for you because you are not black enough”.
Ek suig nie dié goed uit my duim nie. Daar is oorgenoeg bewyse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.