Clifton-strande heropen ná walviskarkas verwyder word

Die walvis het Dinsdag in die vroeë oggendure op die strand uitgespoel. (Foto: Stad Kaapstad)

Clifton-strande is heropen nadat die karkas van ʼn bultrugwalvis wat Dinsdagoggend daar uitgespoel het, verwyder is.

Die Stad Kaapstad sê die karkas is gister omstreeks 15:30 met die hulp van SANParke en verskeie ander van die stad se departemente verwyder.

Die karkas van die 9 m lange walvis het gister in die vroeë oggendure uitgespoel. Die nasionale departement van bosbou, visserye en omgewing is ingelig en monsters en afmetings is vir wetenskaplike ontleding geneem.

Die strand is oopgestel nadat die karkas verwyder is. (Foto: Stad Kaapstad)

“Die oorsaak van dood is onseker, maar dit is waarskynlik weens natuurlike oorsake,” lui ʼn verklaring van die stad.

ʼn Groot skool bultrugwalvisse het die gebied sedert November besoek en hierdie is die tweede walvis wat uitspoel. Die karkas van ʼn 8 m lange walvis het op 9 Desember verlede jaar by Seepunt uitgespoel.

Die karkas is na ‘n stortingsterrein geneem. (Foto: Stad Kaapstad)

In die jongste voorval is die karkas met hulp van ʼn boot tydens hooggety verwyder. Dit is van die strand na die Oceana-motorbootklub geneem waar dit op ʼn vragmotor gelaai en na die Vissershok-vullingsterrein geneem.

Die stad het mense vir hul hulp en ondersteuning met die proses bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.