Clive Bruce ‘dankbaar om te leef’ ná hartoperasie

Clive Bruce. (Foto: Facebook)

“Ek is net dankbaar ek leef.”

Só sê die countrymusieklegende Clive Bruce (73) nadat hy Vrydag uit die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria ontslaan is ná ʼn groot hartoperasie.

Bruce, ook bekend as die Midnight Cowboy, het Dinsdag aan Maroela Media gesê daar is nog ʼn lang herstelpad wat voorlê, maar dat dit tans goed gaan met hom.

Sy vrou, Jennifer, sien na hom om by hul huis in Erasmusrand, Pretoria. Hy vertel hy het geen waarskuwingstekens gehad nie voordat hy verlede Dinsdagaand na ʼn hospitaal gehaas is ná hy borspyne gekry het.

Dokters het ʼn angiogram uitgevoer wat getoon het dat sy koronêre are baie verdik is en dat dit te ernstig is om ʼn stent te oorweeg.

“Ek het begin sleg voel en erg gesweet. My vrou was nie op daardie stadium tuis nie. Die oomblik toe sy by die huis kom, het ek vir haar gesê: ‘Lovey, vat my hospitaal toe, ek dink ek kry ʼn hartaanval’.”

Hy vertel hy is eers na die Mediclinic Kloof-hospitaal, maar dat hulle nie ʼn hartafdeling het nie en hy is na die Life Wilgers-hospitaal oorgeplaas.

Bruce vier Donderdag sy 74ste verjaarsdag. Hy vertel dat hy geen planne het om dié verjaarsdag te vier nie.

“Ek is net bly ek leef en dat ek sover goed herstel.”

Bruce was destyds bekend as aanbieder van die countrymusiekprogramme Sing Country en Rewind. Hy het ook in sy loopbaan van sowat vyf dekades die verhoog gedeel met countrysangers soos Lance James, Barbara Ray, Bobby Angel, Billy Forest en Sally Vaughn. Virginia Lee is sy stiefma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.