Clive Derby-Lewis kry nie parool

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis

Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Vrydag aangekondig dat Clive Derby-Lewis nie op mediese parool vrygelaat gaan word nie.

Derby-Lewis (79) dien lewenslange tronkstraf uit vir sy aandeel in die moord op die destydse SAKP-leier Chris Hani in April 1993. Hani se moord het tot onluste en groot vrees vir die oorgang na demokrasie voor die 1994-verkiesing aanleiding gegee.

Oudpres. Nelson Mandela het die moord destyds beskryf as ʼn “vuil daad” wat tot gevolg gehad het dat “ons hele nasie nou op die rand van ʼn ramp staan”.

Derby-Lewis was in sy politieke loopbaan by die Nasionale Party betrokke en was ʼn stigterslid van die Konserwatiewe Party in 1982. Hy het in 1987 as ʼn parlementslid vir die party gedien.

Ten tye van sy inhegtenisname was hy ʼn kandidaat in ʼn tussenverkiesing in Krugersdorp. Hy is in hegtenis geneem op aanklag dat hy Janusz Walus, ʼn Poolse immigrant, bygestaan het in die moord op Hani. Hy het die vuurwapen verskaf waarmee Hani in sy huis se oprit doodgeskiet is.

Derby-Lewis is skuldig bevind aan sameswering tot moord en is die doodstraf opgelê. Sy vonnis is egter na lewenslange tronkstraf omgeskakel nadat Suid-Afrika die doodstraf afgeskaf het.

Derby-Lewis se tweede vrou, Gayle, is ook in hegtenis geneem en aangekla. Sy is later vrygespreek. Derby-Lewis het by die Waarheids- en Versoeningskommissie sy aandeel in die moord erken. Hy het aangevoer dat hy gedink het hy volg politieke opdragte van die Konserwatiewe Party en dat hy “opgetree het in verdediging van my volk, wat bedreig is deur ʼn kommunistiese oorname”.

Derby-Lewis is op 22 Januarie 1936 in Kaapstad gebore. Hy het in Kimberley grootgeword en het by die destydse Christians Brothers’ College studeer voor hy vir ʼn rekeningkundefirma en oliemaatskappy gewerk het. Hy was vir 19 jaar ʼn vrywilliger in die Burgermag en was die jongste persoon nóg om tot bevelvoerder van die regiment Witwatersrand Rifles bevorder te word. Hy het die John Chard-toekenning ontvang vir lang en voortreflike diens.

Derby-Lewis het sedert 2007 verskeie aansoeke gebring om op parool vrygelaat te word. Hy het vel- en prostaatkanker in gevangenskap opgedoen.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Clive Derby-Lewis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Bruno Stef ·

Die hele aangeleentheid laat n mens nogal terugdink aan die gevangeneskap van die onder leier van NAZI Duitsland Rudolf Hess weet net een ding n Komminus sal nooit sy vyand enige genade betoon nie.Is dit wat vir enige opposisie kan verwag in n toekomstige sogenaamde S.A.

Dave ·

Jy is reg. Soos Spandau destyds vir Rudolf Hess in stand gehou is, sal die anc vir Clive Derby-Lewis ook ‘n gevangenis bedryf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.