Clover-saak: Getuie glo by hof geïntimideer

Die Tembisa-landdroshof. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die hoofondersoekbeampte in die saak waarin twee Clover-werkers daarvan beskuldig word dat hulle ʼn veiligheidswag vermoor het en nog een ernstig beseer het, is na bewering in die hof se gange geïntimideer. Hy getuig tans namens die staat.

Nkosinathi Mbatha en Mohale Shokane het Donderdag weer in die Tembisa-landdroshof verskyn waar hulle borgtogaansoek vir die derde dag voortgesit is.

Kapt. Robert George Seckle beweer dat hy verlede week in die gange van die hof deur ondersteuners van die beskuldigdes voorgekeer is. Dié ondersteuners het na bewering probeer om hom te intimideer.

Die staat staan Mbatha en Shokane se borgtogaansoek teen en Seckle getuig al vir dae oor die dag toe Terence Tegg vermoor en JJ Cassanga vir dood agtergelaat is.

Volgens Seckle het hy ná die beweerde woordewisseling in die hof Shokane se regsverteenwoordiger genader en oor die voorval in kennis gestel.

Dié het namens die ondersteuners, wat oënskynlik Clover-werkers en lede van die vakbond General Industries Workers Union of South Africa (GIWUSA) is, om verskoning gevra. Hy het ook onderneem om die groep daaroor aan te spreek.

“Ná die voorval het iets soos dit nie weer gebeur nie,” het Seckle gesê.

Mense het sedert verlede week by die hof opgeruk ter ondersteuning van die beskuldigdes. Dié ondersteuners het Dinsdag liedere in die hof se parkeerterrein gesing voordat van hulle die hofgebou in is.

Seckle het die voorval in die hof as voorbeeld gebruik waarom Mbatha en Shoka nie op borgtog vrygelaat moet word nie.

“As hierdie ondersteuners nie bang is vir die wet nie en geneig is tot wetteloosheid, wat sal dan met my getuies gebeur?

“Gegewe wat met my gebeur het, kan ek nie die veiligheid van my ooggetuies verseker nie.”

Volgens Seckle vrees die ooggetuies, wat reeds beëdigde verklarings oor die gebeure van die dag afgelê het, vir hul veiligheid en is sekuriteit reeds opgeskerp om hulle teen intimidasie te beskerm.

Tot op hede is geen van die getuies, wie se name bekend gemaak is, egter al leed aangedoen nie.

Mbatha en Shokane se regsverteenwoordigers voer aan dat Seckle die bewyse van die saak fabriseer en pak eerder die skuld op die veiligheidswagte.

Mbatha se regsverteenwoordiger meen as Tegg, Cassanga en hul kollegas nie die bus vol Clover-werkers op daardie dag voorgekeer het nie, sou die beskuldigdes en die slagoffers nie nou in hierdie posisie gewees het nie.

Een van die drie busse wat werkers van Clover se aanleg in Johannesburg na Boksburg sou vervoer, is deur die veiligheidswagte gestop nadat daar glo ʼn voorwerp na die wagte se bakkie gegooi is wat die voorruit beskadig het.

Talle ooggetuies se beëdigde verklarings ontbreek en daar is na bewering verskeie verdagtes wat nog in verband hiermee in hegtenis geneem moet word.

Die beskuldigdes se borgtogaansoek sal op 13 April voortgesit word. Intussen bly hulle in polisieaanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Hoekom word die ondersteuners van die moordenaars nie in hegtenis geneem op klagte van intimidasie nie? ‘n “Verskoning” is nie voldoende nie., Die “onderteuenrs” moet ook aangekla word van medepligtigheid tot moord.

Wakkerslaper ·

Want intimidasie is ‘n komminustiese taktiek wat ons regime goedkeur

lodewyk ·

Sou nou word die wagte die skuld gegee omdat hulle werk gedoen het??-So dit is nou n rede om hulle dood te maak-hoe siek redenasie is dit nie van die duiwels se regsverteen woordiger nie???

Swerwer ·

Dit is juis hoekom die wesens dit doen, hul intimideer om angs te skep en as die intimidasie nie gewerk het nie word daardie persoon eenvoudig vermoor. Dit is al oor en oor bewys. Die kolmp wat intimideer moet summier in hegtenis geneem word en toegesluit word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.