Clover-twee bly langnaweek in tronk

Tembisa-landdroshof. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Nkosinathi Mbatha en Mohale Shokane sal eers volgende week hoor of hulle op borgtog vrygelaat word al dan nie. Die twee Clover-werkers se borgtogaansoek duur reeds langer as ʼn maand.

Mbatha en Shokane word daarvan beskuldig dat hulle vroeër vanjaar ʼn veiligheidswag by ʼn Clover-aanleg in Johannesburg vermoor en nog een erg aangerand het. Terence Tegg is op die toneel dood verklaar, terwyl JJ Cassanga by die hospitaal opgeneem is. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Mbatha en Shokane het weer Woensdag in die Tembisa-landdroshof verskyn waar ʼn laaste poging aangewend is om die saak vír en téén hulle te bewys.

Albei se regsverteenwoordigers voer aan dat die staat nie kan bewys dat hul kliënte positief op die toneel geïdentifiseer kan word nie en dat beskuldigdes dus op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was toe die polisie hulle in hegtenis geneem het.

Die verdediging het Woensdag tydens hul slotbetoë aangevoer dat die hoofondersoeker in die saak, kapt. Robert George Seckle, nie tydens kruisondervraging kon onthou watse klere Shokane aangehad het toe hy in hegtenis geneem is nie en dat hy slegs deur iets algemeens soos sy masker, wat ʼn soort buff (nekdoek) was, geïdentifiseer is.

Die hof het ook gehoor dat Seckle nie met oortuiging kon sê dat Mbatha wel aan die aanvalle deelgeneem het nie.

“Die staat het ʼn hoë berg om te klim [as hierdie saak verhoor word], want die kwessie rakende die beskuldigdes se identiteit is baie twyfelagtig.”

Die staatsaanklaer het egter voortgegaan om ʼn lang lys van ooggetuies op te noem wat reeds beëdigde verklarings afgelê het dat hulle Mbatha en Shokane op die toneel gewaar het. Van hierdie ooggetuies het glo nooit die beskuldigdes uit hul sig verloor nie en gesien hoe die veiligheidswagte aangerand is.

Beeldmateriaal wat vanaf kringtelevisie bekom is, wys glo ook duidelik hoe die gebeure afspeel en diegene wat daarby betrokke was, kan só geïdentifiseer word.

Die staatsaanklaer voer aan dat Shokane buitendien skuld beken het terwyl hy in polisieaanhouding was.

Volgens Shokane se regsverteenwoordiger het hy egter nie hierdie bekentenis vrywillig afgelê nie, aangesien hy glo met ʼn plat hand deur polisiebeamptes aangerand is.

Daar is egter nie ʼn verslag van ʼn mediese ondersoek by die hof ingedien oor die beweerde aanranding nie.

Op sy beurt het Mbatha se regsverteenwoordiger die hof daaraan herinner dat sy kliënt aan ʼn ernstige siektetoestand ly, wat “konstante mediese ondersteuning vereis”. Die aard van hierdie toestand is nie in die hof bekend gemaak nie.

Volgens die staatsaanklaer is daar geen mediese sertifikate by die hof ingedien om dié bewerings te staaf nie, dus dien hierdie toestand nie as ʼn rede dat Mbatha op borgtog vrygelaat moet word nie.

Die verdediging voer ook aan dat daar geen rede is om te glo dat die twee beskuldigdes getuies sal nader as hulle op borgtog vrygelaat word nie, hoewel die name van die staatsgetuies reeds bekend is en Mbatha en Shokane se ondersteuners weke gelede nog die ondersoekbeampte probeer intimideer het.

“Daar is geen bewyse dat hulle [Mbatha en Shokane] getuies sal intimideer nie en nadat ek die ondersteuners betig het oor die beweerde intimidasie van Seckle, het dit nooit weer gebeur nie,” het Shokane se regsverteenwoordiger gesê.

“As die hof vir Mbatha en Shokane verbied om iets te doen, sal hulle nie daardie bevel verontagsaam nie.”

Die staatsaanklaer stem egter nie saam nie en meen daar is ʼn goeie kans dat die beskuldigdes ander getuienis sal intimideer of bewyse vernietig indien hulle op borgtog vrygelaat word. Die staat is ook oortuig dat hy genoeg bewyse het om die twee suksesvol te vervolg.

Die landdros het die saak tot 19 April uitgestel wanneer ʼn uitspraak op die borgtogaansoek gelewer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Daar word soveel tyd en geld bestee aan hierdie borg aansoeke. Waar seker misdade gepleeg word moet daar geen borg gekry kan word nie. Dis hoekom die sake so onnodig sloer. Prokereurs moet hulle werk behoorlik doen en sorg dat hulle gereed is. Maar nou lyk dit my, hoe langer die sake sloer, hoe meer moet hulle betaal word. As die hof begin vas staan en ophou om sake te laat uitstel en uitstel sal daar nooit sake afgehandel word nie. Gee een uitstel en dit is dit. Mense moet begin besef dat as jy verkeerd is, jy jou straf moet vat. Die slagoffers het nie daardie voorreg gehad nie!

Kobus ·

“As die hof begin vas staan en ophou om sake te laat uitstel en uitstel sal daar nooit sake afgehandel word nie” – hierdie stelling maak nie sin nie.

Christa ·

Natuurlik sal hulle die ander ooggetuienis gaan intimideer. Hou hulle maar op hok. Hulle is nooit skuldig nie, al word hulle “red handed” gevang. My pot se deksel hoe hulle altyd onnosel pleit, maar altyd slim plannetjies uitdink om hulself skotvry te verklaar.

Renier johannes ·

Bring die dood straf terug en alles sal stop word wakker

Kerrie ·

As jy mos op CCTV video vasgevang is , dan word daar hoog en laag gesweer dis jou tweeling broer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.