Coca-Cola herroep Appletiser-produkte

Ses Appletiser-besendings is Donderdag deur Coca-Cola Suid-Afrika herroep aangesien dié produkte nie aan produksiestandaarde voldoen nie. (Foto: Coca-Cola Suid-Afrika)

Ses Appletiser-besendings is Donderdag deur Coca-Cola Suid-Afrika herroep aangesien dié produkte nie aan produksiestandaarde voldoen nie.

Die maatskappy sê in ʼn verklaring dat hy tydens roetinegehaltetoetse van “die probleem” bewus geraak het.

Coca-Cola het egter nie oor die spesifieke probleem uitgewei nie.

Luidens ʼn berig op Business Insider is Appletiser-produkte op ʼn soortgelyke wyse deur Coca-Cola Amatil in Australië herroep – glo weens verhoogde vlakke van mikotoksien (patulien) wat siektetoestande tot gevolg kan hê.

Dit is nie in dié stadium duidelik of ʼn soortgelyke probleem moontlik met die Appletiser-besendings in Suid-Afrika ondervind is nie.

“Die welstand en gesondheid van ons klante is ons primêre fokus, en daarom het ons besluit om die geraakte besendings met onmiddellike inwerkingtreding te herroep,” het die maatskappy Donderdag gesê.

Coca-Cola sê hy werk tans nou saam met betrokke rolspelers en owerhede om te verseker dat alle prosedures nagekom word terwyl ʼn ondersoek na die oorsaak van die probleem voortduur.

Enigiemand wat produkte van die BB 07NOV21-, BB 30MAY22-, BB 10JUN22-, BB 18MAY22-, BB 19MAY22- en BB 23MAY22-vervaardigingslotte gekoop het, word aangemoedig om dit by die maatskappy aan te meld. Dié kodes kan bo- of onderaan die bottels, blikkies of verpakking gevind word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ek het nooit geweet dat Coke met hulle ernstige BEE beleid ook foute kan maak nie. Hierdie is n ernstige probleem wat deur hulle “foutlose” proses geglip het.

Peter Pan ·

Se vir jou vriend dat dit seker net ‘n spelfout is….

Elinette ·

OK, maar moet standaard produkkwaliteitstoetsing nie plaasvind VOOR vervaardigde produkte vir verspreiding, versending en verkope uitgestuur word nie? Of …e… het die produksie kwaliteitsbeheer personeel weer op hul pap geslaap?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.