Coleske-twis: Dis tussen maatskappy en werknemer, ‘nie tussen broers’

Arnold Coleske. Foto: Afrikaans is Groot/Facebook

Die bekende kunstenaar, sakeman en musiekpromotor Arnold Coleske sê die hofgeding tussen Afrikaans is Groot (AIG) en sy broer Ewald is níks persoonliks nie. Hy sê die kwessie is ʼn maatskappygeskil en nié ʼn familietwis nie.

Arnold sê mediaberigte wat dit laat lyk of hý vir Ewald hof toe gesleep het, is ʼn “snertstorie en kwaadwillig”. Hy sê kwessies wat hom en Ewald persoonlik raak word tussen hulle twee self uitgesorteer, maar dat dié ʼn geskil tussen AIG se direksie en ʼn werknemer is. Arnold sê hy het hom juis van die proses onttrek weens sy noue band met Ewald.

“Daar is ʼn groot, réúse-onderskeid tussen ʼn persoon wat iemand hof toe sleep, en ʼn maatskappy wat dagvaar vir ʼn maatskappybate,” het Arnold gesê.

Die direksie van Afrikaans is Groot, waarin Ewald en Arnold altwee minderheidsbelange het, dagvaar Ewald nadat dié in Februarie vanjaar bedank het, maar onder meer nié ʼn maatskappyvoertuig in sy besit teruggegee het nie. Ewald sê dis voor die hand liggend dat ʼn werker wat sy dienstermyn beëindig, nie langer kan aanspraak maak op sy maatskappyvoordele nie. “Ek is nie seker of hy dit reg verstaan het nie,” het Arnold gesê.

Ewald Coleske het ná sy bedanking glo nie die Toyota Prado – wat een sy van voordele as werker van die maatskappy was – teruggegee nie. Herhaalde pogings om dit op ʼn vriendskaplike wyse terug te kry, het misluk. AIG het hom dus tot die hof gewend om Ewald Coleske te dwing om die voertuig terug te besorg.

Arnold sê hy dra geen kennis oor die strekking van die hofgeding nie. Hy het sy volmag oor die saak aan ʼn ánder direksielid gegee, juis omdat hy nie in ʼn geskil met sy broer betrokke wou raak nie.

“Ek steun die direksie se besluit en diskresie. Soos wat hulle vertroue het in my om die maatskappye te bestuur, het ek vertroue in hulle om die besluite namens die aandeelhouers en die direksie te maak,” het hy gesê.

Kobus van Niekerk, regsverteenwoordiger vir AIG, het dit bevestig.

Ewald Coleske. Foto: Afrikaans is Groot

“Ons wil obviously die ding op ʼn vrienskaplike wyse met Ewald probeer uitsorteer. Tot op hede het dit nou nog nie kon plaasvind nie en is ons genoodsaak om die dagvaardingsroete te gaan. Soos dinge nou staan: Ewald het sekuriteit vir die vordering gestel om hom in staat te stel om sy pleit te liasseer en hy moet nou pleit… Dan kan ons sien wat is sy weergawe en die ding van daar vat. Afhangende van wat hy sê, sal die proses sy gang gaan. Soos wat dit tans lyk, lyk dit of litigasie nou maar die roete is,” het Van Niekerk gesê.

Hy het ook bevestig dat Arnold hom onttrek het aan die proses om met Ewald te onderhandel.

“Hy was van meet af aan nie betrokke nie. Hy (Arnold) word effektiewelik net in kennis gestel (van besluite oor die saak), weens die persoonlike aard van die verhouding tussen hom en Ewald. Hulle is broers. Dit maak dit moeilik. Op die einde van die dag moet die maatskappy sy belange beskerm, en hy doen dit,” het Van Niekerk gesê.

Ewald het vroeër aan Rapport gesê dat hy en Arnold die geskil vriendskaplik sal oplos. Hy kon vandag nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

AIG en Coleske Artists (CA) word grootliks deur eMedia Holdings besit en spesialiseer in die aanbieding van Afrikaanse musiekkonserte.

Ewald en Arnold Coleske was jare lank bekend as die musiekgroep Coleske en hulle liedjie “Take Me Where The Sun Is Shining” was in 1997 ʼn internasionale treffer. Hulle is dieselfde jaar ook met ʼn SAMA vereer. Die twee het Coleske Artists daarna gestig. Die maatskappy is lankal nie meer ʼn familieonderneming nie, maar CA is steeds verantwoordelik vir die bestuur van top- Afrikaanse musiektalent.

  • Nagenoeg 85 000 kaartjies is verkoop vir vanjaar se reeks Afrikaans is Groot-konserte in Pretoria. Die skouspel word ook in Kaapstad aangebied. Kunstenaars sluit in Juanita du Plessis, Steve Hofmeyr en Bobby van Jaarsveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.