Coligny-moordsaak: Hof hoor oor seun se beserings

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte in die Coligny-landdroshof (26 Junie 2017). Foto: ANA

Die Noordwes-hooggeregshof het Dinsdag gehoor daar was minstens 23 verskillende beserings aan die liggaam van Matlhomola Jonas Mosweu, die tiener wat in Coligny dood is toe hy glo van ʼn bewegende bakkie afgeval het.

Dr. Ruweida Moorad, ʼn spesialis- forensiese patoloog, het in die hof Mosweu se beserings as ernstig beskryf en gesê sy regteroog was geswel en hy het ander beserings aan sy gesig gehad. “Dit is moontlik om só ʼn besering in ʼn aanranding op te doen,” het sy gesê.

Sy het vir die staat getuig in die saak teen Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34), wat tereg staan op aanklagte van moord, intimidasie, ontvoering, die onwettige besit van ʼn vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie, diefstal en die rig van ʼn vuurwapen.

Doorewaard en Schutte is op 8 Mei verlede jaar op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Hulle het skuld op die aanklagte teen hulle ontken.

Die staat voer aan Doorewaard en Schutte het Mosweu vermoor deur hom van ʼn bewegende bakkie af te gooi nadat hy glo sonneblomme uit hul werknemer se veld gesteel het. Die beskuldigdes beweer hulle wou Mosweu na die plaaslike polisiestasie neem en hy het self van die bewegende bakkie af gespring.

Moorad het Dinsdag gesê Mosweu se beserings strook met ʼn val of ʼn sprong van ʼn bewegende voertuig, maar sy het tot die gevolgtrekking gekom dat die slagoffer van die voertuig afgeval het omdat hy nie sy hande gebruik het om sy kop te beskerm toe hy op die grond geval het nie.

“Daar was geen beserings op sy palms nie en dit wys dat hy nie sy hande gebruik het om sy kop te beskerm nie.”

Sy het vir die hof gesê selfs ʼn persoon met geen mediese agtergrond nie sou weet om die persoon na ʼn kliniek of hospitaal te neem in plaas van ʼn polisiestasie as gevolg van die aard van die beserings.

Adv. Hennie du Plessis, vir die verdediging, het vir die hof gesê hulle sal die oorsaak van Mosweu se dood betwis.

Volgens die dokumente voor die hof is die oorsaak van sy dood erge trauma aan sy nek.

In hul pleitverduideliking beweer Doorewaard en Schutte hulle het nie vir Mosweu in die bakkie vasgemaak nie omdat hy vrywilliglik in die bakkie geklim het nadat hulle hom gevang het toe hy die sonneblomme gesteel het.

Hulle sê verder nadat hy uit die bakkie gespring het, het hulle hom by twee mense gelos sodat ander voertuie nie oor hom sou ry waar hy lê nie, en na die polisiestasie gegaan om die voorval aan te meld en ʼn ambulans te ontbied.

Die staat voer aan ʼn vermeende ooggetuie het teenoor die polisie beweer hy het gesien hoe Mosweu van die bewegende bakkie afgegooi word. Die aanklagte van intimidasie, ontvoering en die besit van ʼn gesteelde selfoon hou verband met die enigste getuie in die saak. Daar word beweer dat ʼn vuurwapen ook op dié getuie gerig is.

Mosweu se dood het verlede jaar tot gewelddadige betogings in Coligny gelei, ʼn spoor van verwoesting gelaat en rasseverdeeldheid in die gemeenskap gebring. Minstens ses huise en drie vragmotors is tydens die betogings aan die brand gesteek en verskeie winkels is geplunder en beskadig.

Sakkie Dingake en Agnes Machibidu, Mosweu se ouers, het Dinsdag die tweede dag van die verhoor bygewoon.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tokkolos ·

Ai mense ek wil glo dat hy van bakkie afgeval het en ek wil glo ons wit mense moet teen die tyd die common sense he om nie aan hul te raak nie want hul gaan rede kry om jul skuldig te bevind. As jul onskuldig is hoop en glo ek geregtigheid sal geskied maar tot dan het ek nie veel hoop nie

Alida ·

Ja -nee hulle gebruik nou alles om die mense skuldig te maak. Mens hoor nie die detail by plaasmoord slagtings nie.

peanut ·

My vraag is; as hy van die bakkie afgegooi is, wie het bestuur en wie was agterop saam met hom.
Verder sou hy dan mos probeer keer om nie afgegooi te word en dus die ‘gooier’ se arms gryp en gevolglik dna onder sy naels hê.
Of vra ek dom vrae

Magde ·

Maklik om nou die 2 manne vir Moord aan te kla….. Dis darem skielik Hoe n getuie te voorskyn kon kom dat hy af gegooi is van bakkie…. En Hoekom sou hul dit gaan aan gee het as hul skuldig was,,?????, my dierbare vriend is vermoor ook in daardie omgewing en ek sal graag wil sien wat daar gaan gebeur…. Ek is vol woede en glo nie aan die regstelsel…..want dit tree mos ook net op soos hul wil. Mag hierdie 2 Jong manne se saak my die teendeel bewys…

Rina ·

Peanut nee is nes jy sè daar .Daars so baie vrae want nog onbeantwoord is ?Wies die getuie is sy getuienis geloofwaardig ? Ek hoop regtig dat hierdie saak op regverdige wyse hanteer sal word .Want nie baie het meer vertroue in die regstelsel nie.

Hoe nou? ·

Hoe nou?
Volgens die berig die volgende: ‘Vandie bakkie afgespring/afgegooi’; ‘in die bakkie vasgemaak’; ‘uit die bakkie gespring’; ‘vrywillig ingeklim’; ‘van ‘n bewegende bakkie afgeval’. WAAR WAS HY??? Was hy IN die bakkie of OP die bakkie?
Par.6 is ek in ieder geval té dom om te verstaan . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.