Coligny-moordsaak ‘moet vinnig afgehandel word’

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte in die Coligny-landdroshof (26 Junie 2017). Foto: ANA

Die pa van die 16-jarige seun van Coligny wat dood is nadat hy volgens die staat van ʼn bewegende bakkie af gegooi is, het Maandag gesê hy wil hê die hofverrigtinge in die saak moet vinnig afgehandel word.

“Ek wil hê hierdie saak moet so vinnig as moontlik afgehandel word,” het Sakkie Dingake buite die Coligny-landdroshof gesê waar Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) kort vantevore verskyn het. Die twee mans staan tereg vir die moord op Matlhomola Jonas Mosweu (16).

Maroela Media het vroeër berig Doorewaard en Schutte het Maandag net vlugtig in die hof verskyn voordat die saak tot 7 Augustus uitgestel is sodat die direkteur van openbare vervolging ʼn besluit oor die saak kan neem.

Doorewaard en Schutte het die hof binnegekom sonder om na Mosweu se familie, wat in die hof gesit het, te kyk. Dingake het ʼn paar keer voor die hofverrigtinge begin het aan die mans gesê om hul koppe op te lig. “Hou julle koppe op, hoekom kruip julle weg?” het hy gevra. Dingake en sy vrou, Agnes Mosweu, het skuins oorkant die beskuldigdes se familie in die hof gesit.

Die staat beweer Doorewaard en Schutte het op 20 April vir Mosweu agterop ʼn bakkie gedwing voordat hulle hom later van die bewegende bakkie afgegooi het. Die seun is kort hierna aan sy beserings dood. Die twee beskuldigdes ontken dat hulle Mosweu van die bakkie afgegooi het en sê Mosweu het van die bakkie afgespring.

Volgens die mans het hulle Mosweu en nog ʼn kind in hul werkgewer se landerye betrap waar hulle sonneblomme gesteel het. Hulle het glo vir die seuns gesê om op hul bakkie te klim om hulle na die polisiestasie te kan neem. Een seun het weggehardloop en Mosweu het agterop die bakkie geklim.

Mosweu se dood het tot gewelddadige betogings in die Noordwes-dorp gelei waartydens huise en vragmotors afgebrand en winkels geplunder is. Maandag het ʼn paar EFF-lede buite die hof “Kill the boer, kill the farmer” gedreunsing toe die twee beskuldigdes die hof verlaat het. Die polisie het die singery egter vinnig stopgesit.

Doorewaard en Schutte is op 8 Mei op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Die NVG se aansoek om te appelleer teen die borgtog wat aan die mans toegestaan is, is intussen van die rol geskrap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Katryn ·

Hoe verstaan ek dit dan nou, twee manne sit voor in die trokkie, agterop sit die kind wat van die bewegende trokkie afspring? Hoe kon die een wat nie bestuur nie hom afgooi van genoemde voertuig? Maak geen sin nie!!

al ·

Sê ek ook! Buitendien indien hul die kind doodgemaak het, waarom sou hul die ander kind wie weggehardloop het, se lewe spaar?
Een helse klomp snert sê ek!

Johan. H. ·

Ek wil nie die regter in die sakie wees nie,, Enige kant toe en daar is repurkusies,,, Ons hou ieg die saak mooie dop,,,

Jip ·

Mnr Dingake, vir iemand wie se seun vir dae onopgeëis in ñ lykshuis gelê het omdat jy hom nie gemis het nie, is jy nou vol bravade!

Nee wat ·

Ek hoop die pa (wat nie dieselfde van as die seun het) word as getuie geroep en dan hoop ek hy kan kop omhoog antwoord as hy gevra word of hul presies geweet het waar die seun homself bevind het voor sy dood? Want as ek reg onthou het die familie dae later eers te voorskyn gekom.

Ben ·

Twee mans word aangekla van moord. Omdat HULLE (altwee) hom van die bakkie afgegooi het. Hoe bestuur jy en terselfde tyd gooi jy iemand van die bakkie af. Maak mos nie sin nie. Die bestuuder kan mos nie aangekla word nie!
Regstelsel is ñ “joke”

Leeann ·

Dit is nie hulle kind nie, dring aan op DNA toets. Sy “pa” stook net en word definitief betaal om so aan te gaan

Spikkel ·

Ek stem Leeann. Hy word betaal. Ons boere wil ook graag hê plaasmoordsake moet spoedig afgehandel word. Hierdie ouens is onskuldig, daar is nie twyfel nie. Of die regstelsel egter regverdig gaan wees sal ons maar moet sien.

Erick ·

‘No good deed goes unpunished.’ Dog hulle help hul mede boere deur om die dief Polisiestasie toe te vat. Die BBC por seker die vermetele aan om nog meer sensasioneel te wees.

Marietjie ·

Waarom is die EFF lede nie gearresteer nie? Wat se voorbeeld is hul nou? Dit is verregaande dat hul so oor n dief tekere gaan. Maar as hul die mense moor is dit niks.

Jacques Venter ·

Daars sitplek vir drie mense voor in n bakkie. As hulle hom tussen hulle laat sit het kon hy nie van die bakkie af spring of ontsnap nie.

pietie ·

Hierdie gaan ‘n toets vir regspraak wees. Die landdros is diep in die sop as hy teen die gepeupel besluit. Of gaan dubbele standaarde maar weer wen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.