Coligny-moordsaak: ‘Mosweu het nog gelewe ná hy gespring het’

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte in die Coligny-landdroshof (26 Junie 2017). Foto: ANA

Phillip Schutte, een van die twee Coligny-mans wat van die moord op die 16-jarige Matlhomola Mosweu aangekla word, het vandag in die Noordwes-hooggeregshof gesê hy het nié vir Mosweu van die bakkie afgestamp nie.

“Ek kan nie daaroor kommentaar lewer nie. Dit het nie gebeur nie,” het Schutte aan staatsaanklaer adv. Moeketsi Moeketsi gesê toe hy hom uitvra oor die staatsgetuie wat getuig het dat hy gesien het hoe gooi Schutte Mosweu van die bakkie af.

Schutte het erken dat hy nie gesien het dat Mosweu van die bakkie afspring nie.

Maroela Media het vroeër berig Schutte het gesê hy het stof gesien in die linkerkantste truspieëltjie [van die bakkie] en het toe gekyk na die agterkant van die bakkie en agtergekom die seun is nie meer daar nie.

“Ek het geskree dat die seun gespring het,” het Schutte gesê.

Hy het bygevoeg die voorval het in ʼn “breukdeel van ʼn sekonde” plaasgevind en dat die enigste afleiding wat hy kon maak is dat Mosweu gespring het.

Schutte (34) het getuig in die verhoor waarin hy en sy medebeskuldigde, Pieter Doorewaard (26), daarvan beskuldig word dat hulle op 20 April 2017 Mosweu (16) na bewering van ʼn bewegende bakkie afgestamp of afgegooi het en dat hy weens dié val gesterf het. Die staat beweer dit het gebeur nadat die twee mans Mosweu betrap het waar hy sonneblomkoppe uit hul werkgewer, Pieter Karsten, se landerye steel.

Schutte het aan die hof gesê dat Mosweu nog gelewe het nadat hy glo van die bakkie afgespring het terwyl hulle na die polisiestasie gery het. Hy sê hy het Doorewaard met twee mense by Mosweu gelaat terwyl hy vir hulp by die polisiestasie gaan soek het.

Moeketsi het hom gevra hoekom hy nie op die toneel gebly het om na Mosweu te kyk terwyl Doorewaard na die polisiestasie gegaan het nie. Hy het geantwoord dat hy aan die polisie wou verduidelik wat gebeur het.

Hy het gesê hy wou Mosweu nie skuif nie aangesien hy bang was en nie mediese ondervinding het nie. “Ek wou nie aan hom raak nie, want ek kon dit erger maak.”

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

tamboti ·

Vra die staatsgetuie hoe gooi ‘n man wat voor in ‘n bakkie ry, ‘n persoon agter op die bakkie af, terwyl hulle ry teen 60km/h?
Die mans het self SAP toe gegaan, wanneer het die getuie so besluit?

LHS ·

Vra die staatsgetuie om te gaan wys hoe hou jy jou ewewig agter op n bakkie teen 60km op n grondpad en dit met n seun wat sou terugbaklei het.

Koos de Meyer. ·

Maar net nog ‘n hol gery de rasse storie. So sal hulle aanhou en aanhou. Die hele besigheid is ‘n siek storie. Nuwe Suid Afrika.

Johan ·

Net so ja. Vir die hof maak dit geensins saak of hulle skuldig of onskuldig is nie. Dit weet ons almal. Hoe gouer ons mense besef dat die howe van SA n grap is en ten alle koste daar moet uitbly, want jy sal nie wen nie. Skuldig of onskuldig.

dalkieso ·

die kind het moontlik opgestaan mer die hoop dat die bakkie genoeg spoed op die draai sal verminder sodat hy kan spring. hy kon moontlik toe sy balans verloor en afgeval het.

Sarel ·

Sal graag die Landros wil wys op n regsbeginsel dat n enkelgetuie se getuienis met versigtigheid beheer moet word. Hoop die twee jong manne gaan siviel teen induvidue optree, veral die sogenaamde getuie en Aanklaer in hul persoon. Ook moet gekyk word of regsvereideling moontlik gepleeg is en moet krimenele saak gemaak word .

alida ·

Uit hulle getuienis kan mens aanvaar dat dit die waarheid is maar daar is nou skielik ander “getuies” wat dit wil weerspreek. Hierdie ouens is onskuldig.

Ellisras ·

Hierdie manne is reeds gestraf met ‘n REUSE regs rekening. En skuldig of onskuldig die rekening is steeds daar. Die Staatsaanklaers weet dit, en misbruik dit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.