Coligny-moordsaak: Polisie ‘was onder druk’ ná seun se dood

Phillip Schutte en Pieter Doorewaard Foto: ANA

Die Noordwes-hooggeregshof het Woensdag gehoor dat die polisie nie die patoloog se bevindings oor die oorsaak van Matlhomola Mosweu se dood beïnvloed het nie.

Brig. Clifford Kgorane, hoof van georganiseerde misdaad in Noordwes, het vir die hof gesê hy het vir dr. Ruweida Moorad, forensiese patoloog, twee weergawes van die moontlike oorsaak van Mosweu se dood gegee, een waar hy uit die bakkie gespring het en ʼn ander waar hy uit die bakkie gestamp is.

Die staat voer aan Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) het Mosweu op 20 April 2017 by Rietvleiplaas naby Coligny aangerand en hom uit ʼn bewegende voertuig gestamp. Die mans het Mosweu glo daarvan beskuldig dat hy sonneblomme uit hul werkgewer, Pieter Karsten, se sonneblomland gesteel het.

Die staat voer ook aan die twee mans het ʼn beweerde ooggetuie ontvoer, hom aangerand en gedreig om hom dood te maak as hy die voorval sou aanmeld. Hulle het glo sy selfoon gesteel en ʼn vuurwapen op hom gerig.

Die twee het skuld ontken op al sewe aanklagte teen hulle.

Kgorane het ook tydens kruisondervraging erken dat die polisie onder druk van die gemeenskap verkeer het om inhegtenisnemings te doen.

Pieter Smit, prokureur vir die verdediging, het vir Kgorane gevra of dit as gevolg van die druk was dat hy die saak van ʼn geregtelike doodsondersoek na moord toe verander het. Kgorane het gesê hy het dit slegs gedoen ná hy die getuie ondervra het en sy verklaring gelees het.

Smit het ook gevra hoekom Kgorane nie Maandag tydens ʼn ondersoek ter plaatse al die liggings wat deur die staat se sleutelgetuie, Bonakele Pakisi, uitgewys is besoek het nie. Pakisi het Maandag verskeie liggings uitgewys, onder meer waar hy glo gesien het hoe die twee beskuldigdes Mosweu uit ʼn bewegende voertuig stamp. Hy het glo gehoor hoe die seun roep: “Mamma, help, ek sterf!”

Die getuie het verduidelik hy het naby ʼn plaashuis geloop toe hy gesien het hoe die twee mans Mosweu uitstamp. Toe hulle glo besef dat hy hulle gesien het, het hulle die oorledene opgelaai en wou by Pakisi hoor wat hy gesien het.

Volgens Pakisi het hy aan die mans gesê hy het nie enigiets gesien nie, maar hulle het hom agterop die bakkie gelaai en met hom rondgery en hom gedreig. Hulle het uiteindelik na ʼn dam toe gery, ʼn vuurwapen op hom gerig en hom gedwing om alkohol te drink. Hulle het hom daarna glo beveel om voor ʼn bewegende bakkie te hardloop terwyl hulle skote op hom gevuur het.

Pakisi beweer hy het gebraak, inmekaargestort en is daar agtergelaat. Pakisi het gesê Mosweu het die hele tyd agter in die bakkie gelê.

Die twee beskuldigdes se saak is uiteindelik tot 6 Junie uitgestel, alhoewel die staat na verwagting nog getuies sal roep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nog n Koos ·

So daar behoort metaal te wees iewers waar hulle op hom geskiet het?

Hanna ·

Die een lieg meer as die ander! En dit alles net om die “gemeenskap” te probeer please. Ek hoop julle twee menere dagvaar die staat en sy liegbek-getuies!

SeMaarNet ·

Hanna – ek se net vanoggend dieselfde! Want ons grootste fout is om dit te laat gaan! Want ten minste as daar een so saak gewen word – is daar iets om na te verwys indie toekoms. Maar meeste van die tyd is mense so bly die nagmerrie is verby dan doen hulle niks!!!

Koos ·

So is die wiele stadig maar seker besig om af te kom vir die staat. Die Romeine had ‘n gesegde: Laat geregtigheid geskied al val die hemel. As hierdie kêrels een ou wou vermoor waarom sal hulle ‘n ooggetuie dan laat wegkom?

Gwen ·

Is dit nie adv. Pieter Smit nie? Volgend my kennis is hy ’n advokaat, nie ’n prokureur nie.

Daan ·

Hoe is dit moontlik vir die 2 verdagters om die oorledene uit n bewegende bakkiete gooi ? Wie het bestuur ? Die oog getuie se die oorledene was agter op die bakie gewees. Of ry die bakkie vanself terwyl altwee verdagttes agter is en die oorledene uit gooi ? Iets klink nie lekker nie.

Cornelius du Rand ·

Die kwaliteit beriggewing is swak. Beide Hennie du Plessis en Pieter Smit is Advokate wat in Mahikeng praktiseer. In van die berigte word na hulle verwys as prokureurs.

Lagwekkend ·

1) Die staat voer aan die “Slagoffer” is van die bakkie afgegooi, maar getuie sê deur al die gejaag,gedreig, geskieterye en drinker by die dam was die “Slagoffer” dan steeds in die bakkie??
2) AS die manne die “Slagoffer” wel dood gemaak het, HOEKOM sou hul nie sommer van die getuie ook ontslae geraak het nie?
3) Hulle het na bewering die getuie gedwing om voor “‘n” bewegende bakkie in te loop..Watter bakkie sal dit wees??Waar is nog getuies…
Hierdie is die grootste grap wat ek in my lewe gelees het, ergste daarvan die staat en landdros buit die geval uit. Die polisie het nie hul werk gedoen nie, hul het ‘n geregtelike dood ondersoek begin en toe by gepik en onthou dit is ‘n bravo-slag-offer en whisky-mans…1..2..3…nee wag, MOORD nie meer geregtelike doods ondersoek nie…

Verregaande!!

Chantel ·

Hoekom sal die getuie jok oor so iets? Ek glo die 2 is skuldig… nie almal is altyd onskuldig nie. Sou julle dieselfde gesê het van die “doodskis” storie as daar nie ‘n video was wat dit bewys het nie? Ek vra maar net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.