Coligny-moordsaak: Twee weer in hof

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte in die Coligny-landdroshof (26 Junie 2017). Foto: ANA

Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34), die twee mans van Coligny in Noordwes wat verdink word van die moord op ʼn 16-jarige seun wat glo sonneblomme gesteel het, sal na verwagting Vrydag in die landdroshof op die dorp verskyn.

Die saak is in Augustus tot 6 Oktober uitgestel vir nadere ondersoek en om die direkteur van openbare vervolging geleentheid te gee om te besluit of die verhoor in ʼn streekhof of hooggeregshof gaan plaasvind, waarna hul borgtog verleng is.

Gemeenskapslede het weer buite die hof betoog en was in politieke drag geklee. Van hulle wou die N14-pad versper en die dorpie se strate invaar, nadat die saak weer uitgestel is.

Doorewaard en Schutte word vir die moord op Matlhomola Jonas Mosweu (16) aangekla. Die staat beweer die mans het Mosweu agterop ʼn bakkie gedwing voordat hulle hom later van die bewegende bakkie afgegooi het. Die seun is kort hierna op pad na ʼn hospitaal aan sy beserings dood.

Die twee beskuldigdes ontken dat hulle Mosweu van die bakkie afgegooi het en sê Mosweu het van die bakkie afgespring. Volgens die mans het hulle Mosweu en nog ʼn kind in hul werkgewer se landerye betrap waar hulle sonneblomme gesteel het. Hulle het glo vir die seuns gesê om op hul bakkie te klim om hulle na die polisiestasie te kan neem. Een seun het weggehardloop en Mosweu het agterop die bakkie geklim.

Die seun se dood het tot gewelddadige betogings in Coligny gelei, wat nog verder vererger het nadat die twee mans op 8 Mei op borgtog van R5 000 elk vrygelaat is. Tydens die onrus is huise aan die brand gesteek, winkels geplunder en paaie versper.

Buiten die aanklag van moord, staan hulle ook tereg op aanklag van poging tot moord omdat hulle glo op ʼn ooggetuie geskiet het.

Lees die vorige berigte oor die Coligny-moordsaak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marianne ·

Hoe dwing mens iemand agter op ‘n bakkie? En as hulle hom afgegooi het…. wie het die bakkie bestuur?
Die kind het gespring, hy was verkeerd.
Boonop breek “sy mense” die dorp af en gaan wild tekere. Is daar enige iemand gevang en gaan hulle vervolg word???
Pieter en Phillip is slagoffers van omstandighede … laat hulle gaan die mans en hul families is reeds gestraf.

SARIE VAN HEERDEN ·

WAAROM HOOR ONS NIKS VAN AFRIFORUM EN DIE BULHOND NIE?

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek sien mense lewer nie meer kommentaar waar die onregverdigheid teen witmense uitgewys word nie. Ek wil weet WAAR IS AFRIFORUM. Het ons wittes darem nog ‘n kans teen alles wat ons deesdae moet beleef en alles blykbaar geregverdig word deur die gereg. Afriforum, ons het hulp nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.