Coligny-moordsaak: Twee weer in hof

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte Maandag buite die hof. Foto: ANA

Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34), die twee mans van Coligny in Noordwes wat van die moord op ʼn 16-jarige seun aangekla word, het Maandag weer in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die saak is tot 6 Oktober uitgestel vir nadere ondersoek en om die direkteur van openbare vervolging geleentheid te gee om te besluit of die verhoor in ʼn streekhof of hooggeregshof gaan plaasvind. Hul borgtog is verleng.

Gemeenskapslede het weer buite die hof betoog en was in politieke drag geklee. Van hulle wou die N14-snelweg versper en die dorpie se strate invaar, nadat die saak weer uitgestel is.

Doorewaard en Schutte word vir die moord op Matlhomola Jonas Mosweu (16) aangekla. Die staat beweer die mans het Mosweu agterop ʼn bakkie gedwing voordat hulle hom later van die bewegende bakkie afgegooi het. Die seun is kort hierna op pad na ʼn hospitaal aan sy beserings dood.

Die twee beskuldigdes ontken dat hulle Mosweu van die bakkie afgegooi het en sê Mosweu het van die bakkie afgespring. Volgens die mans het hulle Mosweu en nog ʼn kind in hul werkgewer se landerye betrap waar hulle sonneblomme gesteel het. Hulle het glo vir die seuns gesê om op hul bakkie te klim om hulle na die polisiestasie te kan neem. Een seun het weggehardloop en Mosweu het agterop die bakkie geklim.

Die seun se dood het tot gewelddadige betogings in Coligny gelei, wat nog verder vererger het nadat die twee mans op 8 Mei op borgtog van R5 000 elk vrygelaat is. Tydens die onrus is huise aan die brand gesteek, winkels geplunder en paaie versper.

Die Nasionale Vervolgingsgesag se aansoek om te appelleer teen die borgtog wat aan die mans toegestaan is, is intussen van die rol geskrap.

Buiten die aanklag van moord, staan hulle ook tereg op aanklag van poging tot moord omdat hulle glo op ʼn ooggetuie geskiet het.

Lees die vorige berigte oor die Coligny-moordsaak op Maroela Media.

Betogers buite die hof. Foto: ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anair ·

Wonder nou maar net wat kom die plunderaars oor … is hulle verhewe bokant die wet??

Lynette ·

Ek wonder maar net, aangesien die ooggetuie se dat albei mans hom afgesmyt het, wanneer vra die regter die vraag oor wie die bakkie bestuur het. Ek wil graag weet.

Adam ·

Mooi getooi in blou- een van die dae in oranje. Oranje, blanje, blou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.