Coligny-moordsaak uitgestel tot dán

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte in die Coligny-landdroshof (26 Junie 2017). Foto: ANA

Die hofsaak teen die twee mans van Coligny in Noordwes wat aangekla word van die moord op ʼn 16-jarige seun is uitgestel tot 11 Desember vir verdere voorverhoorbesprekings.

Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34) het Woensdag vlugtig in die Mmabatho-hooggeregshof in dié provinsie verskyn.

Doorewaard en Schutte is aanvanklik net van moord en poging tot moord aangekla, maar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die mans se regspan vroeër in Oktober daarvan verwittig dat hulle ook nou van ontvoering, intimidasie, diefstal, die onwettige besit van ʼn vuurwapen, onwettige besit van ammunisie en die rig van ʼn vuurwapen aangekla word.

Doorewaard en Schutte word aangekla van die moord op Matlhomola Jonas Mosweu wat in April vanjaar dood is. Mosweu se dood het tot gewelddadige betogings in Coligny gelei wat verder vererger het toe Doorewaard en Schutte op 8 Mei op borgtog van R5 000 elk vrygelaat is. Tydens die onrus is huise aan die brand gesteek, winkels geplunder en paaie versper.

Die staat beweer Doorewaard en Schutte het Mosweu agter op ʼn bakkie gedwing voordat hulle hom later van die bewegende bakkie afgegooi het. Die seun is kort hierna op pad na ʼn hospitaal aan sy beserings dood.

Die twee mans ontken dat hulle Mosweu van die bakkie afgegooi het en sê Mosweu het van die bakkie afgespring. Volgens die mans het hulle Mosweu en nog ʼn kind in hul werkgewer se landerye betrap waar hulle sonneblomme gesteel het. Hulle het glo vir die seuns gesê om op hul bakkie te klim om hulle na die polisiestasie te kan neem. Een seun het weggehardloop en Mosweu het glo agter op die bakkie geklim.

Lees die vorige berigte oor die Coligny-moordsaak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Los maar die hofsaak. Die manne is reeds skuldig bevind. Dis hoe verwronge die regspraak in ons land is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.