Coligny-moordsaak: Verdediging kap terug oor toneel

Pieter Doorewaard en Phillip Schutte in die hof. Foto: ANA

Die verdediging in die saak teen twee mans van Coligny in Noordwes wat aangekla word van die moord op ʼn tienerseun van dié dorp, het Donderdag in die provinsiale hooggeregshof aangevoer dit was nooit nodig vir die twee beskuldigdes om terug te keer na die toneel toe nie en dat hulle daarom nie teruggegaan het nie.

Dit kom nadat ao. Moremi Modisane vroeër Donderdag getuig het die twee beskuldigdes, Pieter Doorewaard (26) en Phillip Schutte (34), het by die polisiestasie opgedaag met die tienerseun, Matlhomola Jonas Mosweu (16), en hom [Modisane] versoek om ʼn ambulans te ontbied.

Modisane het tydens sy getuienis gesê hy het die twee mans gevra om terug te gaan na die toneel toe, maar hulle het geweier. “Hulle het gesê hulle het ander dinge om te doen,” het Modisane aan die hof gesê.

Hennie du Plessis, vir die verdediging, het egter aangevoer Modisane het aan die twee mans gesê hulle kan maar ry. “Jy het aan hulle gesê dit is nie vir hulle nodig om op die toneel te wees nie. As dit nodig sou wees, sal jy hulle op hulle selfone bel,” het Du Plessis gesê. “Jy het om 10:08 aan beskuldigde een bevestig dat jy ʼn ambulans ontbied het.”

Modisane het ontken dat hy aan Doorewaard en Schutte gesê het hulle mag gaan, en het ook ontken dat hy gesê het hy sal ʼn ambulans ontbied.

Volgens Modisane het hy die seun aangetref waar hy met sy gesig na onder in ʼn plas bloed gelê het. Daar het glo bloed by sy ore uitgekom en sy gesig het gebloei. Modisane het toe ʼn ambulans na die toneel ontbied.

‘Geen reëling tussen polisie en boere’

Modisane het verder ontken dat daar ʼn reëling tussen die polisie en plaaseienaars in die gebied is dat verdagtes na die polisiestasie gebring moet word. Doorewaard het in sy pleitverduideliking genoem dat sodanige reëling bestaan. Op ʼn vraag van adv. Rapula Molefe het Modisane gesê daar is nooit so ʼn reëling met boere in die distrik getref nie.

Hy het gesê Doorewaard en Schutte het voorheen minderjarige seuns na die polisiestasie gebring wat hulle daarvan beskuldig het dat hulle mielies gesteel het. Volgens Modisane het die beskuldigdes selfs die mielies saamgebring as bewyse.

Hy het gesê hy het persoonlik nie ʼn probleem daarmee as slagoffers die verdagtes na die polisiestasie toe bring nie.

Du Plessis het tydens kruisondervraging dit aan Modisane gestel dat Doorewaard en Schutte al voor Mosweu se dood verdagtes na die polisiestasie in Coligny gebring het en dat vier sake van diefstal aanhangig gemaak is.

“Al hierdie sake was diefstalsake waar die verdagtes gevang is dat hulle gewasse van die beskuldigdes se werkgewer se lande steel. In al vier sake het geen van die verdagtes uit die bakkie gespring nie,” het Du Plessis gesê.

Modisane het gesê hy is nie bewus van die vier sake wat Du Plessis genoem het nie.

Die staat voer aan Doorewaard en Schutte het Mosweu op 20 April verlede jaar vermoor deur hom van ʼn bewegende bakkie af te gooi nadat hulle hom gevang het terwyl hy sonneblomme gesteel het. Die staat beweer ook dat Doorewaard en Schutte ʼn ooggetuie wat die voorval gesien gebeur het ontvoer het, met hom rondgery het op die plaas, hom aangerand het en gedreig het om hom dood te maak indien hy die voorval by die polisie aanmeld. Die staat beweer ook die twee mans het die ooggetuie se selfoon gesteel en ʼn vuurwapen op hom gerig.

Doorewaard en Schutte het skuld op al sewe aanklagte teen hulle ontken.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

Ongelooflik hoe selektief die “beampte” onthou soos as en wanneer dit hom pas… of nie? Net soos sy senior gabbas in die hogere poste van die regering?

Heksejag daarom selfbeskikking ·

Daar is n hekse teen ons en ons enigste uitweg is om sterk te onderhandel vir selfbeskikking, anders gaan ons almal een vir een vervolg word net as jy jou eiendom of lewe wil beskerm. Ons moet nou begin, anders is dit te laat.

Danie ·

Die staat BEWEER,nee kyk op watse gronde BEWEER die staat pas hulle die wet so toe dat dit hulle pas, wat het gebeur van wet en orde

PJC ·

Nou lieg die polisieman soos ń tandetrekker want hy was in die eerste plek te lui om sy werk reg te doen.

Alta Schutte ·

Ek ken Pieter Doorewaard gladnie…Maar, Phillip het voor my grootgeword. Ek ken hom van sy geboorte-dag af. Hy het opgegroei saam met my 4 seuns…Phillip was nooit agressief of bakleierig nie…Hy was altyd die vredemaker onder die kinders. Hy is vriendelik en saggeaard. My kinders noem hom die “Sagmoedige Reus” Phillip en Pieter…Mag ons Grote God sy hand oor julle hou! Ons is bly bid! Phillip… wens ek kon vir jou gaan getuig het.

Koos ·

Karaktergetuienis speel nie enige rol hier nie. Laat die reg sy gang gaan. Die staat se saak klink maar bekook, so hou moed.

Johan ·

Miskien moet daardie “beampte” ‘n poligraaf toets ondergaan,

Blommie ·

Ek bly by my mening, onegeag wat gebeur het, was hierdie mans se lewens nie in gevaar nie. Nie eenkeer het hulle bedreig gevoel nie. al wat in bedreiging was, was AARD se besittings. En moenie eers se ons kan aan honger doodgaan sonder dit nie. want een kind kan nie n PLAAS leeg drae in een aand nie. Soos wat dit geld vir die in die dorp om hulle bates te beveilig so geld dit vir die res. Maar om n 16 jarige kind se dood te regverdig, ek kan ongelukkig nie saam julle staan by die mening nie.

anton ·

Wie het gese die mans se lewens was in gevaar???
En as n mens die dag diefstal begin goedpraat…….kan die berge maar op ons val!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.