Coligny-saak: EFF kamp uit buite hof

EFF-lede Woensdagoggend buite die Noordwes-hooggeregshof in Mahikeng. (Foto: ANA)

EFF-ondersteuners het Woensdagoggend buite die Noordwes-hooggeregshof in Mahikeng betoog voor die verskyning van die twee mans wat skuldig bevind is aan die moord op die Coligny-tiener Matlhomola Mosweu.

Pieter Doorewaard (27) en Phillip Schutte (34) is in Oktober verlede jaar skuldig bevind aan die moord op die 16-jarige Mosweu.

“Ons wil ’n lewenslange vonnis hê, niks minder nie. Ons gaan buite die hof slaap tot die twee wit moordenaars tot lewenslange tronkstraf gevonnis is,” het Dintwe Mekgwe, die EFF se streeksekretaris in Ngaka Modiri Molema, gesê.

Volgens Mekgwe het ondersteuners Dinsdagaand buite die hof geslaap en sal hulle nié padgee tot geregtigheid volgens hom geskied nie. “Ons gaan nêrens heen nie. Al word die saak tot volgende jaar uitgestel, sal ons plakkershutte hier bou.”

Dít volg nadat dié groep Maandag chaos in die hof veroorsaak het toe hulle die joernalis Susan Celliers konfronteer het toe sy foto’s van die ondersteuners wou neem. “Jy is nie een van ons nie. Neem die wittes agter ons af, nie ons nie. Vee daai foto uit, vee dit uit,” het ʼn ondersteuner Maandag dreigend aan Celliers gesê.

ʼn Veiligheidsbeampte het die ondersteuners tot orde geroep waarna lede van die polisie se eenheid vir openbare orde na die hof ontbied is.

Vonnisverrigtinge teen Doorewaard en Schutte sal Woensdag in die hof voortduur ondanks die feit dat die enigste ooggetuie in die saak, Bonakele Pakisi, na bewering erken het hy het gelieg toe hy aan die hof gesê het hy het gesien hoe die twee mans die tienerseun vermoor.

Hofverrigtinge is Dinsdag gestaak toe Mosweu se ma, Agnes Mosweu, tydens haar getuienis in trane uitgebars het nadat staatsaanklaer Rapula Molefe haar gevra het hoe die dood van haar seun haar geraak het.

“Ek het nie goed gevoel nie. Ek voel nog steeds nie goed nie,” het Mosweu sag geantwoord. Sy het haar gesig met haar hande bedek en gehuil.

Die hof het gevolglik verdaag om Mosweu tyd te gee om haarself te kalmeer. Sy sal na verwagting Woensdag met haar getuienis voortgaan.

Mosweu het in haar kortstondige getuienis aan die hof gesê dat die dood van haar kind nié die moeite werd was oor ʼn sonneblom ter waarde van R80 nie.

Doorewaard en Schutte is skuldig bevind aan die moord op Mosweu van die Scotland- informele nedersetting naby Coligny op 20 April 2017 nadat daar getuig is hulle het hom van ʼn bewegende bakkie afgegooi. Dít het gevolg nadat die twee Mosweu gevang sonneblomkoppe steel het op Rietvlei, die plaas van hul werkgewer en Doorewaard se oom, Pieter Karsten.

Hulle is ook skuldig bevind aan ontvoering, intimidasie, diefstal en die rig van ‘n vuurwapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Hulle wil lewenslange vonnisse hê. Of die mans skuldig of onskuldig is. Maak nie saak nie.
Die EFF is pateties.

Paul

En so word die skroewe aangedraai, want hulle glo hul optrede beinvloed die regter. Hierdie is sekerlik die grootste fiasko en tragedie van ‘n verhoor wat ek nog in my lewe van gehoor het, en dit oor ‘n regter wat soos eenrigtingverkeer voortgestorm het met sy kommentaar oor die geloofwaardigheid van die enigste getuie, al was dit vol gate so groot soos maankraters en wat van meet af vir die gehoor gespeel het. Kyk hoe het dit nou uitgedraai met die getuienis vir verswarende omstandighede en daardie verwagtinge nou. Self die EFF glo hul optrede buite die hof vind weerklank… Lees meer »

Wessel

Die regstelsel in die land is verantwoordelik vir die gat wat hulle vir hulself wrawe, en as die papaja die dag die waaier slaan, dan klim hulle uit die water uit.

Hanna Hoekom

Nou wie is nou eintlik in beheer van ons regstelsel: die EFF of die hof? Ek wag in spanning…

Linda

Geregtigheid gaan heelmoontlik nie geskied nie want dit wil voorkom dat die howe bang is vir die Eff. Ons regsstelsel word beheer deur politiek!