Die twee mans wat skuldig bevind is aan die moord op ʼn tienerseun van Coligny in Noordwes se aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnis is Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho van die hand gewys.
AfriForum het Pieter Doorewaard en Phillip Schutte bygestaan om die aansoek te bring. Hesti Steenkamp, woordvoerder van AfriForum, het aan Maroela Media bevestig die aansoek het misluk.
Regter Ronnie Hendricks het Doorewaard (28) en Schutte (35) in Maart onderskeidelik tot effektief 18 en 23 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van moord, ontvoering, intimidasie, diefstal en die rig van ʼn vuurwapen.
Die staat het aangevoer die twee het op 20 April 2017 die 16-jarige Matlhomola Mosweu van ʼn bewegende bakkie afgestamp of afgegooi en dat die tienerseun weens dié val gesterf het. Die staat het beweer dit het gebeur nadat die twee mans Mosweu betrap het waar hy sonneblomkoppe uit hul werkgewer, Pieter Karsten, se landerye steel. Die twee mans het tydens die verhoor egter voet by stuk gehou dat Mosweu self van die bakkie afgespring het.
Die mans is in Oktober verlede jaar skuldig bevind aan die moord op Mosweu.
AfriForum het besluit om Doorewaard en Schutte by te staan om teen hul skuldigbevinding te appelleer nadat daar beweer is dat Bonakele Pakisi, die enigste ooggetuie in die saak, glo teenoor twee mense erken het dat hy in die hof gelieg het toe hy gesê het hy het gesien hoe die twee mans vir Mosweu van die bakkie afgooi.
Hou Maroela Media dop vir meer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
27 Kommentare
Wonder net wie het bestuur toe hulle twee hom die bakkie af gestoot het?
Dit maak nie saak wat gebeur het nie. In die geval is dit meer oor wat gelieg is het gebeur. Dit is mos wit mans. Dan sal die staat net een uitkoms wil he.
Die getuie het erken dat hy gelieg het. Waarom word dit nie ondersoek nie?
Ek hoop Afriforum help hulle om hierdie saak in die appèlhof te kry. Ek het die hofsaak gevolg en was hierdie uitkoms te wagte.
Omdat hulle wit boere is Johan.