Comair maak ommeswaai oor Max 8

‘n 737 Max 8 by Boeing se monteeraanleg in Renton, Washington. Foto: (AP Photo/Ted S. Warren)

Comair, wat British Airways en Kulula.com in Suid-Afrika bedryf, het ʼn ommekeer gemaak en besluit om sy Boeing 737 Max 8-vliegtuie se vlerke vir eers te knip.

Maroela Media het vroeër berig ʼn vliegtuig van Ethiopian Airlines met 157 mense aan boord het Sondagoggend neergestort kort nadat dit opgestyg het in Addis Abeba op pad na Nairobi.

Die lugredery het in ʼn verklaring gesê 149 passasiers en agt bemanningslede was aan boord van die Boeing 737 Max 8 toe dit ses minute nadat dit opgestyg het, neergestort het.

Comair het gesê dié besluit is geneem hoewel nóg die regulatoriese owerhede nóg die vervaardiger van hom vereis het om dit te doen.

Wrenelle Stander, uitvoerende direkteur van Comair se lugdiensafdeling, het gesê die lugdiens het uitgebreide voorbereidingswerk gedoen voor die eerste 737 Max 8 in sy vloot ingesluit is en dat hy vol vertroue bly in die inherente veiligheid van die vliegtuig.

Volgens Stander het Comair egter besluit om tydelik nie die vliegtuig vir vlugte te skeduleer terwyl hy ander operateurs, Boeing en tegniese kundiges raadpleeg nie. “Die veiligheid en vertroue van ons kliënte en bemanning is altyd ons prioriteit.”

Comair het einde verlede maand die eerste van agt Boeing 737 Max 8-vliegtuie op bestelling ontvang.

Die 737 Max 8 is een van die mees gebruikte vliegtuie by talle lugrederye en teen November verlede jaar was daar 330 van dié vliegtuie oor die hele wêreld in gebruik.

Ethiopian Airlines het intussen tot die besluit gekom om al sy vlugte met Boeing 737 Max 8-vliegtuie as ʼn veiligheidsmaatreël voorlopig te staak. Die Karibiese lugredery Cayman Airways het ook tot dié besluit gekom en vlugte van twee van die vliegtuie gestaak. Cayman het sy eerste 737 Max 8-vliegtuig in November verlede jaar en sy tweede vandeesmaand ontvang.

Dít volg nadat die Chinese burgerlugvaartadministrasie reeds ná Sondag se ongeluk alle Chinese lugrederye aangesê het om vlugte met dié omstrede vliegtuig liefs op die grond te hou.

Die Midde-Oosterse begrotingslugredery FlyDubai het egter gesê hy is tans in verbinding met Boeing met betrekking tot sy 737 Max 8-vliegtuie en het vertroue in dié model.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

GM ·

Hoekom nou eweskielik die ommeswaai? Is hul bang hul kliënte voel geld word bo hul veiligheid gestel? Want dit is hoe dit vir my voorgekom het.

Philip ·

Ek verstaan jou nie. Hulle stel juis hul kliente se veiligheid eerste en dis hoekom hulle die vlugte weg gevat het vd vliegtuig tot met sekerheid vasgestel kan word dat dit veilig is.

IK ·

Wyse besluit voordat veiligheid dalk vuiligheid word. Wat FlyDubai betref, oppas vir FlyKoebaai.

JAWOHL ·

JAnee ek het gedink julle uitspraak van gister gaan julle ‘n paar SITPLEKKE op die vliegtuig kos .. WYSE BESLUIT.

Dankbaar ·

Ek vlieg net met hul redery… by verre die beste redery in die land en die veiligste.

Anel ·

Nee wat ek vlieg nie. Daar is nie parkeerplek daar bo of uit draai plek dat ons gou kan stop en kyk wat fout is nie.

Jaco ·

Met die slagting op ons paaie is dit nogsteeds BAIE veiliger on te vlieg…

Philip ·

Ek verstaan jou nie. Hulle stel juis hul kliente se veiligheid eerste en dis hoekom hulle die vlugte weg gevat het vd vliegtuig tot met sekerheid vasgestel kan word dat dit veilig is.

Adri ·

Ons vlieg oor ‘n paar dae Australië toe en nou wonder ek skielik waarmee vlieg ons!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.