Comair-sakeredders stippel pad vorentoe uit

(Foto: Comair/Facebook)

Comair se sakereddingspraktisyns het Dinsdag vir die eerste keer met krediteure en werkers vergader nadat die redery op 5 Mei in sakeredding geplaas is. Hulle sê daar is ʼn redelike vooruitsig dat die onderneming gered kan word.

Comair bedryf British Airways en Kulula in Suid-Afrika.

Shaun Collyer en Richard Ferguson het die prosedurele aspekte van die proses, die redes waarom die redery in sakeredding geplaas is, asook die vooruitsig dat die maatskappy gered kan word, uitgestippel.

Volgens Collyer het Comair ʼn halfjaarverlies van R564 miljoen in die eerste helfte van 2020 gely. R790 miljoen kon boonop nie ingevorder word nie nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens in Desember verlede jaar in sakeredding geplaas is. Die geld was vir uitstaande betalings wat SAL nog geskuld het vir ʼn skikking van R1,1 miljard ná ʼn klag by die Mededingingskommissie.

Comair kon sedert 26 Maart, weens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande reisverbod, geen geskeduleerde vlugte onderneem nie en kon geen inkomste verdien nie. Nadat die regering aangekondig het dat die afsonderingsregulasies in fases verslap gaan word en plaaslike vlugte eers op vlak 2 hervat mag word, het Comair “geen ander keuse gehad” as om in sakeredding geplaas te word nie.

Suid-Afrika is tans op vlak 4 van die koronavirus-afsonderingsregulasies, met die moontlikheid dat dit later dié maand na vlak 3 afgewentel kan word.

Collyer het gesê dit is belangrik om ʼn onderskeid te tref tussen werklike en kommersiële insolvensie. Comair is nie werklik insolvent nie en het bates van R7,42 miljard op sy balansstaat, in vergelyking met laste van R5,48 miljard. Die onderneming is eerder in finansiële moeilikheid omdat hy nie genoeg kontant het om sy lopende koste te dek of sy verpligtinge na te kom nie. Omdat alle vlugte onbepaald opgeskort is, is daar ook geen kans om ʼn inkomste te verdien nie.

Ferguson sê ingevolge die Maatskappywet moet die sakereddingspraktisyns volle beheer van die maatskappy oorneem en vasstel of daar enige moontlikheid bestaan dat dit gered kan word. ʼn Sakeplan moet dan in oorleg met belanghebbendes wat krediteure, vakbonde en werkers insluit, saamgestel word. As die plan goedgekeur word, word dit in werking gestel.

Volgens Collyer is daar ʼn redelike kans dat Comair inderdaad gered kan word: Die redery se bates is meer as sy laste, Comair is ʼn belangrike infrastruktuurbate vir Suid-Afrika, dit is mededingend en geniet ʼn markaandeel van 39% vir plaaslike vlugte. Die praktisyns sê Comair het ook ʼn goeie reputasie in die reisgemeenskap, onder lede van die publiek en onder sy kliënte.

ʼn Suksesvolle sakereddingsproses gaan egter afhang van die steun van alle aandeelhouers en die beskikbaarheid van na-aanvangsfinansiering.

Die volgende stap in die proses is om ʼn krediteure-en-werkersverteenwoordigerskomitee op die been te bring. Die sakereddingsplan gaan na verwagting op 9 Junie bekend gestel word, terwyl daar op 24 Junie daaroor gestem sal word.

SAL, wat vyf maande gelede in sakeredding geplaas is, het steeds nie ʼn sakereddingsplan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

So gaan dit as jy met terroriste besigheid doen. Vra vir ou slim gordhan wat nou. Hy wil n nuwe lugdiens begin maar hy betaal julle nie

Kokerboom ·

Ek hou duimvas dat die lugdiens met ‘n trotse record van bedryf en bestuur vir die land gered kan word.
SAL: raak ontslae deur vir vakbonde te gee. My voorstel behou die handelsmerk

Nie Verbaas ·

So Gordhan se bankrot SAL vernietig almal om hulle ook nog.

marius ·

As SAL nie kan betaal nie is dit ‘n daad van insolvensie . Comair kan aansoek doen dat hul gelikwideer word . Die unies kan dan maar dans soos hul goed dink . Gordan ook .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.