Comair-sakeredders vra vir meer tyd

(Foto: pixabay)

Die sukkelende lugredery Comair se sakeredders het sy krediteure gevra om die spertyd vir ʼn sakereddingsplan met ʼn maand uit te stel. Die sakeredders wil die plan nou eers aan die einde van Augustus bekendmaak.

Die redery, wat Kulula en British Airways bedryf, is op 5 Mei in sakeredding geplaas en sakeredders is vol vertroue dat die onderneming gered kan word.

Die versoek om uitstel, sê die sakeredders, is sodat hulle kan onderhandel vir korttermyn finansiering en twee aanbiedings van moontlike beleggers verder kan voer.

Een van die aanbiedings van moontlike beleggers is reeds bindend, maar Comair moet eers aan bepaalde voorwaardes voldoen. Verdere onderhandeling is nog nodig om die tweede aanbod te finaliseer sodat dit in die sakereddingsplan ingesluit kan word. Die korttermyn finansiering is noodsaaklik vir die sakereddingsproses om te kan voortgaan.

Comair het ʼn verlies van R564 miljoen in die eerste helfte van 2020 gely. Soveel as R790 miljoen kon boonop nie ingevorder word nie nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in Desember verlede jaar in sakeredding geplaas is. Die geld was vir uitstaande betalings wat SAL nog geskuld het vir ʼn skikking van R1,1 miljard ná ʼn klag by die Mededingingskommissie.

Comair het voorheen al uitstel gevra vir die bekendmaking van die sakereddingsplan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gawie ·

Die foto by die artikel is nie van Comair-vliegtuie nie. Alhoewel Comair in Suid-Afrika British Air bedryf, maak hulle slegs van Boeing 737 vliegtuie gebruik. Die vliegtuie in die foto is almal Boeing 777 modelle.

christo ·

Hier is nog net een van die SAL slagoffers. Die skikking van die Mededingingskommissie is regsafdwingbaar en die staat sal maar moet uithaal en wys. Dis so verkeerd dat die ANC regering mislukkings weier impak het as die staatsondernemings self. R5 miljard hier en 5 miljard word rondgeswaai asof dit die staat se geld is, terwyl dié geld niks anders as die belastingbetaler se hard verdiende geld is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.