Comair se vlugte onbepaald opgeskort

Kulula.com (Foto: Comair/Facebook)

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het Comair, wat British Airways en Kulula.com in Suid-Afrika bedryf, se lugvaartbedryfsertifikaat nou onbepaald opgeskort.

Die BLO het Saterdag die besluit geneem om die lugdiens se dienste vir 24 uur op te skort na aanleiding van ’n ondersoek na die onlangse vlaag veiligheidsvoorvalle by die lugdiensgroep. Net in die afgelope maand was daar volgens die BLO talle voorvalle, onder andere enjin‑ en onderstelfoute.

Volgens die BLO was dit ’n voorkomende tydelike opskorting waarbinne die operateur aan die reguleerder moet bewys dat die risiko- en veiligheidsbestuurstelsels doeltreffend is in die bestuur van potensiële gevare.

BLO het Sondag in ʼn verklaring gesê dat die lugdiens se opskorting onbepaald verleng is nadat daar nog veiligheidskwessies aan die lig gekom het.

Comair is tot Sondagoggend gegee om ondersoek in te stel en te bepaal of Comair aan toepaslike burgerlugvaartregulasies voldoen.

Die inspeksie was ook daarop gemik om Comair se gehaltebeheer‑ en veiligheidsbestuurstelsels te hersien om voldoening te bepaal wat verband hou met verslagdoening, ontleding en opvolg van voorvalle, en regstellende aksieplanne om herhaling daarvan te voorkom.

Glenn Osmond, uitvoerende bestuurder van Comair, het gesê die lugdiens het deur die nag gewerk om dokumentasie te verskaf wat die BLO versoek het ná ʼn hersiening van sekere beleid, stelsels en prosedures.

Namate die 24-uur-opskorting na aan ʼn einde gekom het, het die BLO gesê hy erken Comair se pogings om die saak so spoedig moontlik op te los, maar die owerheid het bevind dat daar risiko’s is waaraan Comair onmiddellik aandag moet gee.

“Die BLO is ten volle daartoe verbind om te verseker dat die operateur weer in die lug is en het ʼn volle span toegewy om die bewyse te assesseer en te hersien soos dit ingedien word. Die verbintenis tot veiligheid vervang in hierdie geval enige ander behoefte, en dit is om te verseker dat Suid-Afrika sy veiligheidsrekord behou van geen noodlottige lugrederyongelukke nie,” het die BLO in ʼn verklaring gesê.

Comair sê hy was van plan om sy British Airways- en Kulula-vlugte teen Sondagmiddag te hervat. Dié redery is egter nou in die donker oor wanneer sy vlugte weer onderneem kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie ·

Nou is SAA se vlugte weer vol! Magtag Comair, kry julle act together!

SlinkseKoljander ·

Onderhoud is moes nie rerig iets wat in ons land gebeur nie, die ANC het ons moes nou mooi geleer.

Francois ·

Iewers staan iemand van die regering en moet sy bankrekening eers gevul word. Dis mos hoe kaders werk

Miena ·

Lyk my hulle het nodig dat Brendan Maseti hulle risiko & veiligheidsverslae moet kom oorsien. Hy het goed gedoen by SAL en is tans by n mynhuis werksaam… ja so gaan sommige van ons opgeleide en bekwame risiko & veiligheids praktisyns in die krake verlore waar ons wel kan van hulp wees…
O ja – maar wag: ons is mos van die eerlike soort patriotiese materiaal wat nie omkoopbaar is nie in vergelyking met ander karakters!

piper ·

die blo is grootbek teenoor comair. maar kyk na die verslag van hulle eie citation straler wat by george in die berg vasgevlieg en al 3 aan boord dood. die verslag het bevind dat die vlietuig nie voldoen het aan hulle eie standaarde nie en van die bemanning se lisensies nie behoorlik in plek was nie. verder was daar swak vliegkundigheid ook nog n oorsaak van die ongeluk. ek wonder of n ander vliegtuig in plek is om al die lughawens se navigasie toerusting te kalibreer op die regte tyd volgens wet.

SwartBees ·

Ek se julle wat. Kom ons dank die kennis af, voldoen aan die BEE gemors en affirmative action dan probeer ons n vliegtuig suksesvol sonder SNAGS in die lug hou. Klink dit na n plan?

anko ·

Ek mag moontlik verkeerd wees, maar hierdie wil voorkom of dit ‘n politieke aksie is . Regstellende aksie? Skaf BEEE af en stel bevoegde mense aan om werk te doen. “”Die inspeksie was ook daarop gemik om Comair se gehaltebeheer‑ en veiligheidsbestuurstelsels te hersien om voldoening te bepaal wat verband hou met verslagdoening, ontleding en opvolg van voorvalle, en regstellende aksieplanne om herhaling daarvan te voorkom.”” Hoekom nou skielik. Dit laat ‘n mens wonder….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.