Comair vlieg dalk weer binnekort  

(Foto: pixabay)

Die lugredery Comair het gesê twee belangrike mylpale is die afgelope week met sy sakereddingsplan behaal.

Beleggers het die vereiste kredietgoedkeuring van verskillende leners verkry, asook goedkeuring van die verskillende reguleerders wat nodig is om voort te gaan met hul belegging in Comair.

Van die opskortende voorwaardes in die Comair-sakereddingsplan was die vereistes om ʼn kollektiewe ooreenkoms te bereik met vakbonde wat 51% van werknemers verteenwoordig, en dat die beleggers kredietgoedkeuring van verskillende kommersiële leners moet kry vir nuwe skuldfinansiering en die uitstel van terugbetalings op bestaande skuld.

Die Mededingingstribunaal het ook goedkeuring gegee dat Comair en SA Bidco mag saamsmelt. Die voorwaardes hieraan verbonde is dat Comair binne drie jaar nadat die lugredery sy bedrywighede hervat het nie met verdere afleggings mag begin nie, tensy afleggings wettiglik uitgevoer word vir bedryfsvereistes wat nie met die samesmelting verband hou nie.

Richard Ferguson, een van die sakereddingspraktisyns, het gesê daar word nou gefokus om aan die oorblywende voorwaardes te voldoen. “Ons het hierdie week ʼn paar belangrike mylpale in die sakereddingsproses bereik en vorder goed met die finalisering van die belegging.”

Wrenelle Stander, uitvoerende hoof van Comair, het die onlangse belangrike verwikkelinge verwelkom en gesê dat die sakereddingsproses vir almal by Comair moeilik was. Dit is egter bemoedigend dat hierdie verdere belangrike mylpale bereik is.

Glenn Orsmond, wat die reddingskonsortium verteenwoordig, het gesê hy is vol vertroue dat Comair-vlugte weer in Desember hervat sal word. Hy het gesê presiese tye en besonderhede sal mettertyd bekend gemaak word.

Die sakereddingsproses sal na verwagting teen 31 Maart 2021 afgehandel wees, waarna Comair as ʼn volhoubare onderneming sal voortgaan.

Comair bedryf Kulula en British Airways se plaaslike afdeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Mag alles suksesvol verloop vir Comair en mag die redery weer die vaandel en goeie diens soos vir baie jare in die verlede hoog hou!

Miskruier ·

En dit in n land waar die regering dit uiters moeilik maak om mee te ding met SAL

Oom Hennie Pennie ·

Sterkte en mag julle nooit die pad volg van nationwide nie. Moenie dat julle geboelie word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.