Comair-vlugte verder opgeskort

Die lugdiens het vlugte nou verder opgeskort. (Foto: Comair/Facebook)

Comair, wat Kulula en British Airways in Suid-Afrika bedryf, het vlugte nou tot 31 Augustus opgeskort.

Die lugdiens het die besluit geneem ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat Suid-Afrika op aangepaste vlak 4 van die afsonderingsregulasies bly in ʼn poging om die derde vlaag koronavirusgevalle te stuit.

Dié aankondiging is Sondagaand gedoen.

Die verbod op alle nie-noodsaaklike reise in en uit Gauteng, asook ʼn baie klein vraag na sakereise en reisverbodsbepalings, het beteken dat Comair alle geskeduleerde vlugte sedert 5 Julie opgeskort het.

Vlugte sou weer op 30 Julie hervat word.

“Gegewe die onsekerheid van die verwagte duur van die onlangs aangepaste vlak 4-afsondering, beperkings op reis in en uit Gauteng, tesame met die groot aansteeklikheid van die Deltavariant van Covid-19, moes Comair die moeilike maar verantwoordelike besluit neem om bedrywighede tot 31 Augustus op te skort,” lui ʼn verklaring van die lugdiens.

Glenn Osmond, uitvoerende hoof van Comair, het passasiers om verskoning gevra vir die ongerief.

Osmond het die aankondiging dat diegene tussen 35 en 49 jaar oud ook van Donderdag ingeënt kan word, verwelkom. “Dit is ʼn belangrike stap om die veiligheid van ons klante en ons werkers te verseker.”

Osmond sê ook dit gaan help om die vraag na vlugte te verhoog en die herstel van die ekonomie en toerismebedryf te verbeter.

“Ons sien daarna uit om passasiers weer op 1 September aan boord te verwelkom.”

  • Kulula-passasiers wat ʼn vliegkaartjie vir ʼn datum tussen 28 Junie 2021 en 29 Julie 2021 het, kan die kaartjie binne 12 maande van die eerste reisdatum, sonder enige boete, gebruik. Geen besprekingveranderingsgeld of tariefverskil word gehef nie. British Airways se sogenaamde Book with Confidence-beleid geld vir passasiers wat ʼn geldige kaartjie by dié redery het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Kan BA, Kulula en Lift nie verstaan. Het soe 12 dae gelede ‘n Safair vlug geklim wat PROPVOL was, en die terug Mango vlug was soe drie keart vol. Soe nou in die tyd vlieg net Safair, Airlink en Mango. SAA sal eers weer in 2254 vlieg……

Hennie

Goeie bestuur en leierskap by Comair. Hulle weet dat hulle nie ekonomies is om te vlieg nie – natuurlik monitor hulle vooruitbesprekings, en dis maar nag…