Comair-werkers begin staak

Argieffoto Foto: cyberairlines.net

Argieffoto Foto: cyberairlines.net

Die vakbond UASA het Dinsdag bevestig dat sy lede van Woensdag by die lugvaartmaatskappy Comair gaan staak nadat salarisonderhandelinge vasgeval het.

Die United Association of South Africa (UASA) verteenwoordig ongeveer 400 lede, of 60%, van lughawewerknemers by Comair en het Maandag ʼn 48 uur-kennisgewing van staking uitgereik.

Comair is die plaaslike franchisehouer van British Airwais en die beheerder van die laekostelugredery kulula.com.

UASA eis salarisverhogings van tot 30% oor ʼn drie jaar periode, teen 10% per jaar, wat ʼn VPI-verhoging plus ekstra insluit vir die buitengewone toename in lewenskoste en stygende rentekoerse.

Comair bied ʼn ekwivalent van 22,5% teen 7,5% per jaar aan oor dieselfde periode.

Jannem Goussard, woordvoerder van UASA, het Maandag in ʼn verklaring gesê die partye kon nie ʼn ooreenkoms bereik nie en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het ʼn sertifikaat uitgereik dat die dispuut nie opgelos is nie.

“UASA en Comair het die afgelope 13 jaar al voortreflike standaarde opgelewer van vooruitstrewende arbeidsverhoudinge. Dit is die eerste staking deur werknemers in die lugredery se geskiedenis,” het Goussard gesê.

“Die staking kan moontlik grootskaalse ongerief, vertragings in vlugte en ʼn daling in die aandeelprys tot gevolg hê,” het hy bygevoeg. “UASA bly dus verbind daartoe om die dispuut op te los, selfs in hierdie laat stadium.”

Die onderhandelings oor jaarlikse verhogings tussen UASA en Comair het al in Januarie op ʼn dooiepunt uitgeloop en ondanks die KVBA se ingryping, het UASA ʼn dispuut verklaar.

Comair het bevestig hy het ʼn 48 uur-kennisgewing van staking ontvang.

Erik Venter, uitvoerende hoof van Comair, het gesê die lughawe is trots op sy billike salarisse en mededingende voordele. “Ná daadwerklike pogings om die geskil op te los, is dit met spyt dat die partye nie ʼn ooreenkoms kon bereik nie. Comair maak gereeld seker sy salarisaanbieding reflekteer die dinamika van die mark en die ekonomiese omgewing. Ons glo in die noodsaaklikheid om werksekuriteit te skep, eerder as onvolhoubare vinnige oorwinnings. Die belange en welstand van ons werknemers is uiters belangrik vir die onderneming en ons maak aansienlike beleggings om die algemene welstand van ons werknemers te verseker.”

Die oorgrootte meerderheid van Comair-kliëntediensagente, kaartjieverkope-agente, oprit-beheerders, grondbeheerders en spesialediensagente wat by verskeie lughawens dwarsoor die land werk, word deur UASA verteenwoordig.

Comair se aandeelprys het intussen Maandag met 9% gestyg nadat die maatskappy aandeelhouers in kennis gestel het dat besig is met aankope-onderhandelings, maar kon nie bekend maak met wie die onderhandelings plaasvind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Josua Keys ·

Die lewe daar buite het geweldig duur geword en ek verstaan dat mense sukkel maar om te staak is onaanvaarbaar, indien werkers nie by die werk opdaag nie moet hulle afgedank word en onmiddellik vervang word. Dienste moet steeds gelewer word aan die verbruiker want die verbruiker betaal die salaris en dit is duidelik dat mense wat stakings aanhits dit nie verstaan nie. Suid Afrika sit met een van die grootste werkloosheids syfer ter wereld en daar is baie mense wat ‘n 7.5% verhoging op hul salaris sou wardeer het, my vrou wat in die gesondheid sorg werk het nie eens so ‘n aanbod gekry nie en hulle was tevrede en hulle werk dubbel so hart soos die mense en het geleerdheid op hul naam ook daarby so aanvaar die aanbod of gaan soek ander werk, my seuns sal met graagte vir Comair wil gaan werk vir ‘n beter toekoms!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.