Comrades 2019: Inskrywings steeds nie oop

Die Comrades Marathon-vereniging (CMV) het laat hoor dat inskrywings vir dié immergewilde marathon nie op 1 September geopen het soos die afgelope paar jaar nie.

Die marathon het in ʼn verklaring op hul amptelike Facebook-blad gesê die inskrywingsproses word tans hersien in lyn met terugvoer wat hulle ontvang het.

Die Comrades vind Sondag 9 Junie 2019 vir die 94ste keer plaas. Dit sal die 48ste marathon wees wat “opwaarts” gehardloop word en in Pietermaritzburg eindig.

Rowyn James, wedloopdirekteur van die CMV, het gesê hulle verstaan dat baie atlete uitgesien het daarna om hul inskrywings af te handel, verál in die lig van die oorweldigende reaksie wat hulle verlede jaar ontvang het. Die hele kwota inskrywings het binne drie weke uitverkoop.

“ʼn Aankondiging sal binne ʼn gepaste tyd gemaak word wat die inskrywingstydperk betref, asook oor ander opwindende ontwikkelings wat in die pyplyn is,” het James gesê.

Cheryl Winn, die CMV-voorsitter, het gevra dat atlete geduld toon met die CMV, aangesien hulle besig is om die proses te verfyn en te verseker dat die inskrywings vir 2019 se Comrades so regverdig en deursigtig as moontlik plaasvind.

Winn het gesê hul atlete is hul prioriteit en hulle sal verseker dat volgende jaar se wedloop weer volgens die wêreldklasstandaarde waarvoor die Comrades bekend is, sal geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

B ·

Korrek, in die algemeen het die proses baie goed gewerk en daar was geen ooglopende leemtes wat ek ervaar het nie.

Wonder wat broei nou weer?

Ellisras ·

Ek wil net verskoning aangebied. Vir die 20 ste jaar agtereenvolgende kan ek dit nie maak nie.

Theo ·

Ek harloop nou al vir die afgelope 25 jaar die Comrades en het besluit dat hierdie die laaste een my gemakstoel sal wees.

James ·

Hier broei weer iets. Kwota stelsel? Lucky draw? Urgh. Hoekom moet mense altyd karring aan iets wat werk? Daar is wel baie mense wat elle inskryf en nie gaan nie, sonder enige werklike geldige rede en dit maak dat die wat wil gaan nie inskrywings kry nie. Wat ook nie reg is nie. Ons dan maar wag en kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.