Comrades: Húlle hou drawwers in veilige hande

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die voorbereiding wat gedoen word om te verseker dat die jaarlikse Comrades-marathon ʼn sukses is, is ʼn uitdagende taak. Om te verseker dat alle atlete tydens die moordende wedloop behoorlike mediese sorg ontvang indien hulle dit benodig, is nét so ʼn taai stryd.

Die wêreld se grootste en oudste ultramarathon het ʼn mediese span nodig wat aan die uiteenlopende mediese behoeftes van duisende atlete wat hul fiksheid en uithouvermoë op die proef stel, kan voldoen.

Netcare, wat al 22 jaar lank ʼn mediese vennoot van die Comrades is, sê hy het nét die span kundiges om die werk gedoen te kry. Netcare 911 is al maande lank besig om ʼn groep van dokters, paramedici, verpleegsters en vrywilligers saam te stel wat gereed is om agter die skerms van hierdie internasionale sportbyeenkoms te werk.

“Ons beskou dit as ʼn eer om altesame 156 mediese werkers, 35 ambulanse en ʼn lugambulans aan die 96ste Comrades-marathon te verskaf,” sê Shalen Ramduth, bedryfsdirekteur van Netcare 911.

Sondag gaan die span van Netcare 911 by strategiese punte langs die roete mediese bystand aan al die atlete bied, veral naby aan die laaste uitmergelende deel tot by die eindstreep.

Vanjaar se Comrades-marathon sal vir die tweede agtereenvolgende jaar by die stadsaal in Pietermaritzburg begin en by die Hollywoodbets Kingsmead-stadion in eThekwini eindig.

Dr. Jeremy Boulter, die Comrades-marathon se wedloopdokter vir die afgelope 43 jaar, sê sy span begin al ʼn jaar vooruit aan die volgende marathon beplan.

“Vanjaar is daar byna 18 000 inskrywings en die blote skaal van die byeenkoms vereis noukeurige beplanning. Die tydelike mediese fasiliteit wat opgerig word, is van die grootste ter wêreld.”

Die Comrades se mediese fasiliteit naby die wenstreep is sedert 1977 ʼn kenmerk van die marathon en sluit vanjaar ook Netcare se intensiewesorgeenheid in.

Dié eenheid sal tien noodspesialiste hê, 25 noodregistrateurs van Wits en die Universiteit van KwaZulu-Natal se mediese fakulteite, dokters uit die private sektor, sowat 75 Netcare- en ander verpleegpersoneel en 25 algemene assistente.

“Ons sal ook ʼn kleinskaalse laboratorium oprig wat ons in staat sal stel om dringende bloedtoetse te doen,” sê Boulter.

“Verder sal daar ook paramedici, fisioterapeute en vrywilligers op bystand wees.”

Ramduth sê Netcare 911 en die Comrades-span is gereed vir enige moontlikheid, hetsy dit ʼn lewensgevaarlike noodgeval of ʼn verrekte spier is.

Dié span gaan Comrades-atlete gesondhou hou.

Volgens Ramduth is hierdie span spesifiek vir die Comrades gekies, maar dit sal nie die ander bedrywighede van Netcare 911 se nooddienste enigsins raak nie.

“Netcare 911 se nooddienste sal soos gewoonlik vir die publiek beskikbaar wees,” sê hy.

“Diegene wat aan die wedloop deelneem, kan gerus wees dat die Comrades se mediese span agter die skerms is om hulle veilig te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.