Comrades is ’n juweel, sê goue Gerda

Gerda Steyn (Foto: Sibonelo Ngcobo/African News Agency/ANA)

As ’n mens vir sir Isaac Newton kon vra watter Comrades-roete hy verkies, sou die Britse wiskundige waarskynlik op die “af-wedloop” van Pietermaritzburg na Durban besluit het.

’n Appel het immers meer rol-momentum teen ’n afdraande, of hoe?

Maar Gerda Steyn stem nie noodwendig daarmee saam nie – persoonlike voorkeur speel ook ’n belangrike rol. En wanneer die 32-jarige langafstandatleet oor Suid-Afrika se grootste ultramarathon praat, kan jy gerus luister; sy beskik immers oor tekkies van Comrades-goud.

“My gunsteling-roete is van Durban na Pietermaritzburg. Ek weet nie juis of een makliker as die ander is nie, maar my persoonlike herinneringe van die op-wedloop is van die beste in my lewe,” het Steyn aan Maroela Media gesê.

Sy het onder meer in 2019 die eerste vroue-atleet in die geskiedenis van die marathon geword om die roete van Durban na Pietermaritzburg in minder as ses uur kaf te draf: 05:58.53 om presies te wees.

“Negentig kilometer is ’n baie lang pad en ’n drawwer moet nie die impak van afdraandes onderskat nie. Ek dink egter wel dat dit moontlik is om die afstand in ’n vinniger tyd af te lê, terwyl die eindpunt by die Moses Mabida-stadion altyd ’n belewenis is.”

Die 95ste Comrades-marathon begin Sondag in Pietermaritzburg en 15 985 atlete het ingeskryf.

Argieffoto.

Die Comrades-webblad het vroeër bevestig dat vanjaar se amptelike afstand 89,885 km is. Smokkel daardie 885 m dan nie met ’n atleet se kop nie; af-wedloop of te not?

“Beslis!” is haar laggende antwoord.

“Ek kan vereenselwig met baie pad-atlete wat daarvan hou om hul syfers af te rond. Tog glo ek dat ’n roete van 89,885 km genoeg sal wees om enige mens van sulke lawwighede te laat vergeet!”

Wanneer jy so ver hardloop, kan ’n mens maar weet dat jy moeg gaan word. Maak nie saak hoe fiks jy is nie.

“Moet dan net nooit moed opgee nie. Probeer kalm bly en weet dat almal op die pad deur moeilike oomblikke sal moet worstel. Fokus op dít wat jou liggaam nodig het om te herstel en probeer om die wedloop in kleiner, meer haalbare sarsies op te breek. Jy kan selfs stap as dit moet, maar moet net nie handdoek ingooi nie.”

Sy moet haarself ook gereeld gedurende die wedloop motiveer.

“Ek herinner myself dan daaraan dat dit ’n voorreg is om deel te neem en dat die maande se harde werk nie verniet is nie. Een dag se geswoeg en gesweet kan vir herinneringe sorg wat vir ’n leeftyd hou.”

Hoewel Steyn nie by vanjaar se Comrades-wegspring sal aantree nie – sy wil in die aanloop tot die New York-marathon op 6 November ’n paar korter afstande aanpak – sal sy beslis volgende jaar terug wees.

“Vir my is die Comrades-marathon enig in sy soort. Dit is die oudste en mees gesogte pad-ultramarathon en om die wedloop te voltooi is ’n belewenis wat ’n mens nie sommer kan beskryf nie. Die duisende drawwers wat jaarliks saam die pad aandurf is ’n unieke ervaring en ’n juweel van ons land!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oosieoos ·

Ek het die afcomrades verkies. Al verskil was ek het meer krampe gekry en was die volgende dag meer seer maar het dit tog makliker gevind

Anel ·

Net jammer dis op ‘n Sondag. Volg dit om dieselfde rede nie meer nie. Eintlik enige sport en ek was baie lief vir my Saterdag sport. Maar nou ja, agv sport is ons land in sy kanon. Maar my opinie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.