Comrades-kampioen in ‘baie pyn’ ná aanval

Nick Bester in die hospitaal. Foto: Sharon Bester

Nick Bester, die gewese Comrades-kampioen wat Sondag aangeval en erg aangerand is terwyl hy geoefen het, is Maandag na die hoësorgeenheid vir hartpasiënte oorgeplaas.

Bester is Sondagoggend ná sy aanval in die Life Eugène Marais-hospitaal se intensiewe sorgeenheid in Pretoria opgeneem, maar sy toestand het intussen versleg.

Volgens sy seun, Shaun-Nick, is sy pa by sy bewussyn, maar het hy baie pyn.

“Die dokters het vanoggend gebel om ons in te lig dat hulle hom na die hartversorgingseenheid gaan oorplaas. Sy liggaam is glo besig om sy spiere af te breek om die wonde te probeer herstel. Dit veroorsaak baie spanning op sy liggaam,” sê Shaun-Nick.

Bester het Sondag omstreeks 08:30 in die Magaliesberg noord van Pretoria vir ’n komende kompetisie geoefen toe hy aangeval is. Maroela Media het vroeër berig hy is deur drie aanvallers van agter af oorval en met ’n klip teen die kop geslaan. Die mans het hom vasgebind en erg aangerand. Hy moes ná die aanval op sy rug teen die berg afseil om hulp te kry.

Nick Bester kort nadat hy aangeval is. Foto: Sharon Bester

Shaun-Nick vertel die mans het sy pa verskeie kere met ʼn mes oor sy lyf gesteek. Die been bokant sy linkeroog, drie ribbes en sy wangbeen is gebreek.

“Die vel oor sy enkels waar hy vasgebind was, is af,” sê Shaun-Nick.

Bester het glo sy vuurwapen by hom gehad ten tyde van die aanval, maar die aanvallers het hom daarmee aangerand. Shaun-Nick sê sy pa is se selfoon, vuurwapen en bankkaarte is tydens die aanval gesteel. “Die aanvallers het hom gedwing om sy bankkaarte se PIN vir hulle te gee.”

Volgens Shaun-Nick is die familie geskok oor Bester se aanval. Shaun-Nick sê hy lê self omtrent elke dag daardie roete alleen met sy fiets af. Hy is ’n professionele bergfietsryer.

Die familie kan Bester moontlik Maandag vinnig in die hospitaal gaan besoek.

Bester is tans die bestuurder van die Nedbank-hardloopklub.

Hy is in 2010 ook aangeval terwyl hy geoefen het. Tydens dié voorval is Bester van sy fiets afgegooi en aangerand waarna die aanvallers met sy duur bergfiets op die vlug geslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Soos al telkens gesien is met kommentaar op MM….het nie meer worde vir die land nie! As ‘n man nie meer veilig op die pad is terwyl hy oefen, wat meer ‘n vrou? Daar is net een uitweg en dit is om in groepe te oefen. Nog ‘n vryheid van ons wegenee Sal die dag kom dat die enigste plek ons kan veilig oefen in ‘n
gimnasium sal wees?

Elize ·

Doen iets daaraan, sluit aan by Move one million groep op facebook

Alet ·

Ek raak skoon naar as ek lees hoe onveilig hierdie land van ons is…waar en wanneer gaan daar ‘n einde wees ?? Skokkend !!

Magda ·

ALL NATIONAL CRIMINALS – TERRORISTE / RASSISTE / MOORDENAARS / STAATS KAPING – Dit is waarmee die mense van Suid Afrika moet leef .

Jacobus ·

Nog ‘n voorbeeld van uitsonderlike braafheid van ons land se inwoners. Geen konsekwensies van onder na bo. Skud net jou kop.

Elmarie ·

En die polisie sal weereens nie die skuldiges vastrek nie. By banke is mos kameras hopelik kan hul so van hul vastrek as daar van sy geld getrek word. Sterkte ou grote. Ek hoop regtig jy herstel liggaamlik volkome. Geestelik weet ek nie of mens ooit weer dieselfde kan wees nie

LANA is ELANè ·

Asb as die besoek ‘n uitsondering op die reël gaan wees oor Nick bekend is, sal ek dit as baie onregverdig ag. Kennisse van ons word by die Montana hospitaal geweier om naby hul bejaarde ma te kom, nadat sy geval en haar gesondheid weens swak verpleging na ‘n operasie erg agteruitgegaan het. Die reëls word net nie gebreek, van geen besoekers tydens die inperking nie, en die verpleegpersoneel is als behalwe toeganklik telefonies met ‘n groot kommunikasiegaping wat dit nog moeiliker maak vir pasiënte se familielede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.