Comrades-wenners wag nog vir dwelmtoetsuitslae

Charne Bosman en David Gatebe, 2016 se Comrades-wenners (Foto: Comrades Marathon)

Charne Bosman en David Gatebe, 2016 se Comrades-wenners (Foto: Comrades Marathon)

Comrades-deelnemers wag nog steeds op die uitslag van dwelmtoetse wat ná die wedloop geneem is.

Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) is 21 deelnemers ná die 2016 Comrades-marathon getoets. “Die monsters word getoets en die uitslae sal binnekort beskikbaar wees,” het die organisasie gesê.

Beamptes van Saids was dadelik beskikbaar om deelnemers te toets nadat hulle op 29 Mei van Pietermaritzburg na Durban gehardloop het.

Khalid Galant, uitvoerende hoof van Saids, het gesê daar is “verskeie veranderlikes wat ʼn impak het op wanneer die uitslae bekend gemaak word, en ons moet die atlete se regte in gedagte hou, maar ons verbind onsself daartoe om die publiek so gou as moontlik in kennis stel”.

David Gatebe, wenner van die 2016 Comrades-marathon, het altesaam R1 miljoen prysgeld gewen, omdat hy ook die rekord verbreek het. Die prysgeld word eers oorbetaal sodra die Comrades Marathon-vereniging al die dwelmtoetsuitslae ontvang het.

“Ons prioritiseer gevolglik die toetse sodat die wenner en die prysgeld bevestig kan word,” het Galant gesê.

Altesaam 18 marathondeelnemers het sedert 2010 positief getoets vir verbode middels.

Ludwick Mamabolo, 2012 se Comrades-kampioen, is ná die wedloop positief getoets vir die verbode stimulant metielheksaneamien. Hy is egter eers byna ’n jaar later in 2013 deur ’n onafhanklike tribunaal onskuldig bevind omdat daar fout was met die toetsprosedure ná die wedloop. Mamabolo het deurentyd volgehou hy is onskuldig. Hy het vanjaar in die tweede plek geëindig.

Lees alle vorige berigte oor die Comrades Marathon op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae