Afleggings by Continental Tyres gestuit

Continental Tyres

Continental Tyres

Die vakbond Solidariteit het Donderdag in die arbeidshof in Port Elizabeth ‘n dringende interdik teen Continental Tyres bekom om die maatskappy se onbillike afleggingsproses te stuit.

Volgens Solidariteit is dit ’n groter oorwinning in die stryd teen die marginalisering van minderheidsvakbonde in die werkplek. Continental Tyres en die Nasionale Metaalwerkersunie van Suid-Afrika (Numsa) het onlangs, sonder Solidariteit se medewete, ooreengekom dat die maatskappy sy skofstelsel sodanig mag aanpas dat dit moontlik tot die aflegging van 125 werknemers, insluitende Solidariteit-lede, sal lei.

Volgens Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, behels die bepalings van die interdik dat Continental Tyres sy artikel 189-afleggingsproses moet staak en dat geen Solidariteit-lid of nievakbondlid kragtens die genoemde ooreenkoms tussen Continental en Numsa afgelê mag word nie. “Hoewel die interdik tussentydse verligting gee, is ons tevrede dat die afleggings gestuit is en dat ons ons lede teen die onblikke afleggingsproses kon beskerm het,” het Kruger gesê. “Indien ons nie ’n spoedige interdik bekom het nie, sou daar reeds Maandag ’n vergadering plaasgevind het waartydens die werkgewer die seleksiekriteria vir die afleggings sou vasstel. Daarby moet Continental Tyres die koste wat Solidariteit aangegaan het om die interdik te verkry, dra.”

Numsa en Continental Tyres het vroeg in Mei ’n ooreenkoms bereik na aanleiding van ’n maand lange staking deur Numsa-lede oor die maatskappy se skofstelsel. “Die ooreenkoms het meegebring dat die maatskappy nagenoeg 125 werknemers, waaronder Solidariteit-lede, sou moes aflê. Die betrokke partye het in geen stadium Solidariteit in die saak geken nie en het bloot op grond van die feit dat Numsa die meerderheidsvakbond is, voortgegaan om Solidariteit-lede by die ongunstige ooreenkoms te betrek. Ons meen dat ons stryd teen Continental Tyres opnuut die aandag vestig op die onbillikheid wat dikwels met die meerderheidbeginsel in die werkplek gepaardgaan,” het Kruger bygevoeg.

Hy meen Solidariteit sal weer met die werkgewer vergader sou hy ’n hersiene afleggingsproses van stapel stuur. “Ons sal voortgaan om van regsmiddele gebruik te maak sou Continental Tyres weer nie aan die wetlike prosedures gehoor gee nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ilze Smith ·

Ek was nou net op pad om ‘n band te gaan ruil wat ek beskadig het toe ek deur ‘n slag gat is. Dankie tog ek het eers besluit om gou die nuus te lees. Raai watse band gaan ek NIE vandag of ooit weer op my kar laat sit nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.