CoP 17: Konferensie oor natuurbeskerming in Jhb

cop17 citesMeer as 2 500 afgevaardigdes van 180 lande vergader tydens die 17de konferensie van die partye (CoP 17) van die konvensie oor handel in bedreigde spesies (Cites) in Sandton, Johannesburg.

Dit is die grootste samekoms in die 43 jaar van die konvensie en die doel van die konferensie is om samewerking teen natuurmisdaad te bevorder.

CoP 17 is die wêreld se grootste konferensie oor die beskerming van spesies en sal aanbiedings oorweeg wat meer as 500 plante en diere raak. Die afgevaardigdes sal onder andere aanbiedings oorweeg wat leeus, haaie, renosters, ietermago’s, swerfvalke, krokodille, skilpaaie, paddas, baobab-bome en talle ander spesies raak. Die grootste besprekingspunt sal egter olifante wees, maar lande is verdeeld oor die beste manier om dié diere te beskerm.

Daar is verhoogde internasionale kommer oor die toename in ivoorstropery en olifantgetalle het die afgelope sewe jaar met 30% gedaal.

John E Scanlon, sekretaris-generaal van Cites, het gesê die konferensie is “een van die noodsaaklikste vergaderings in die geskiedenis van die konvensie”.

Cites sal ook besluite oorweeg om korrupsie, internetmisdaad en geldwassery te bekamp, en om moderne forensiese tegnieke beter aan te wend om onwettige natuurhandel te voorkom.

“CoP 17 bied ʼn noodsaaklike ruimte vir beleidsmakers en wetstoepassers van alle streke wêreldwyd om saam te kom en idees te bespreek om die natuur te beskerm teen georganiseerdemisdaadgroepe,” het Scanlon bygevoeg.

Die konferensie duur tot 5 Oktober.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.