Cope, AfriForum: ‘Verdediging van eiendomsreg is nie verdediging van apartheid’

Mosiuoa Lekota, president van Cope, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, tydens ʼn gesamentlike mediakonferensie in Pretoria (10 September 2018). Foto: Verskaf

Die verdediging van die beskerming van eiendomsreg is nie ʼn verdediging van apartheid of kolonialisasie nie, maar eerder ʼn poging om te verhoed dat Suid-Afrika se ekonomie vernietig word soos in Zimbabwe gebeur het.

Só het Cope en AfriForum Maandag in ʼn gesamentlike verklaring gesê nadat hulle aangekondig het dat die politieke party en burgerregte-organisasie nou kragte sal saamsnoer in hul stryd teen die voorgenome wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Cope en AfriForum het tydens ʼn gesamentlike mediakonferensie in Pretoria hul planne bekendgemaak om die Suid-Afrikaanse publiek en die internasionale gemeenskap aan te moedig om druk toe te pas om te verhoed dat die ANC en die parlement “sonder ’n wettige mandaat vanaf Suid-Afrikaanse kiesers optree” in hul poging om die Grondwet te wysig.

Mosiuoa Lekota, president van Cope, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê hulle sal buitelandse ambassades in Suid-Afrika saam besoek om te versoek dat die internasionale gemeenskap druk op die Suid-Afrikaanse regering en die regerende ANC toepas om die Suid-Afrikaanse Grondwet, eiendomsreg en die 1994-skikking te eer. Lekota en Kriel meen die ANC moet aanvaar dat hulle nie ’n wetlike mandaat via ’n verkiesing vanaf Suid-Afrikaanse kiesers het om die Grondwet te wysig nie.

Die ambassades wat besoek sal word, sal bekend gemaak word sodra die afsprake gemaak is.

Mosiuoa Lekota, president van Cope, tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria (10 September 2018). Foto: Verskaf

Lekota sê pres. Cyril Ramaphosa se vroeëre aankondiging dat artikel 25 van die Grondwet gewysig sal word om onteiening sonder vergoeding toe te laat, is ʼn verbreking van sy ampseed. Die partyleier sê Ramaphosa se uitlatings is ook ʼn oortreding van artikel 83(b) van die Grondwet, wat stipuleer dat die president van Suid-Afrika die Grondwet moet handhaaf, verdedig en respekteer.

Lekota het daarop gewys dat die wysiging van die Grondwet die alleenreg van Suid-Afrikaanse kiesers is en nie van die ANC, Ramaphosa, die parlement of enige party nie. “Die Nasrec-konferensievoorneme van Desember 2017 deur die ANC geld nie as ’n regmatige mandaat vanaf Suid-Afrikaanse kiesers nie,” sê hy.

“Die parlement se geldigheid word ook in twyfel getrek ná hulle gefaal het om [oudpres. Jacob] Zuma verantwoordbaar te hou en daarom is hul besluit om die moontlike wysiging van die Grondwet om toelating vir grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak verder nie wettig nie. Pres. Ramaphosa het geen wettige mandaat van Suid-Afrikaanse kiesers ontvang om op só ʼn wysiging aan te dring nie. Die grondverhore magtig ook nie ’n wettige mandaat vanaf Suid-Afrikaanse kiesers nie omdat nie alle Suid-Afrikaanse kiesers aan hierdie verhore kon deelneem nie.”

Kriel het by Lekota aangesluit deur te sê die Grondwet en die beskerming van eiendomsreg soos dit in die Grondwet vervat is, is die resultaat van ʼn onderhandelde skikking wat in die vroeë 1990’s tussen verskeie partye geskik is, waarvan die ANC en die destydse Nasionale Party die hoofrolspelers was. “Ramaphosa en die ANC se besluit om die Grondwet te wysig dui ongelukkig aan dat die ANC die 1994-skikking openlik verbreek. Omdat internasionale druk ’n rol gespeel het in die oorreding van die onderskeie partye om tot die 1994-skikking te kom, het die internasionale gemeenskap nou ook ’n verantwoordelikheid om te help toesien dat die ANC by daardie skikking hou,” sê Kriel.

Hy sê Cope en AfriForum beskou hul samewerking om eiendomsreg te beskerm as ’n positiewe voorbeeld van hoe burgers vanuit verskillende agtergronde, en wat soms verskillende oogpunte het, wel suksesvol kan saamwerk deur wedersydse erkenning en respek in sake van gedeelde belang.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria (10 September 2018). Foto: Verskaf

Volgens Kriel is die beskerming van eiendomsreg iets wat in die algemene belang van elke Suid-Afrikaner moet wees omdat die huidige Zimbabwiese werkloosheidskoers van 90% bevestig dat almal behalwe ’n baie klein elitegroep ly as die skending van eiendomsregte ’n land se ekonomie vernietig.

Lekota sê op sy beurt dat grondhervorming nodig is en verwelkom word, maar nie op die manier wat Zimbabwe gevolg het nie – wat chaoties, verwarrend en rampspoedig vir die ekonomie was. “Ons moet dit tot elke prys vermy. Grondhervorming moet duidelik, wettig en regverdig wees, nie rasverdelend nie; dit moet tot ekonomiese ontwikkeling lei en nie tot ekonomiese ineenstorting nie. Die huidige resessie en swak presterende landbousektor moet vir almal ’n groot waarskuwing wees,” sê hy.

Die twee groepe sê in die verklaring dat Cope en AfriForum saamstem dat apartheid ’n ernstige skending van die waardigheid en regte van swart Suid-Afrikaners was. “Ons standpunt is nie ter verdediging van apartheid al dan nie, maar dat Afrikaners as ’n gemeenskap nie gesamentlik geblameer en gestraf kan word nie; dit sal ’n onreg wees,” lui die verklaring.

“Ons doel is ook nie om op die een of ander manier te argumenteer of te regverdig waarom swart Suid-Afrikaners minder eiendom as hul wit landgenote besit nie; dit sou afleidend en verdelend wees. Suid-Afrikaners van alle gemeenskappe mag nie toelaat dat ʼn populistiese alliansie ons verdeel nie, of haat en geweld veroorsaak tot voordeel van die regerende elite of sodat hulle oor ons kan regeer te midde van ons verdeeldheid nie. Dit sal die nalatenskap van oudpres. Nelson Mandela verloën.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Smoor hom ·

Apartheid het NIKS te doen met die verdediging van jou REG om iets te besit nie. As jy iets gekoop het is hy JOUNE< want as mense net links en regs plase kan afvat dan is dit huise en dan besighede en dan begin hulle sommer by Woollies inhol en gryp wat hulle wil he want dan het NIEMAND meer die reg om iets te besit nie .. so jy MAG dan 'n kar vat en 'n huis vat en kruideniers en medisyne . LEKKER MAN LEKKER . ons moet dit NOU in die kiem smoor.

Rasper ·

Afriforum gaan seker nou weer herinner word aan Piet Retief. Wel, ek dink dit is briljant dit wat hulle doen. Dit het vir my altyd gevoel ons weet nie hoe om die politiek te speel nie. Lyk my ons kom nou reg.

Piet ·

Stadig oor die klippe sou ek se Rasper. Dit was ek wat laas vir Piet Retief wou insleep by my argument toe een van die skrywers die EFF as venoot wou inbring, ander kruipers hou nou weer aan om Agri SA te ondersteun wat wil kyk wie se grond hulle kan wegonderhandel sodat ander hul grond kan behou. Die hele punt was tog dat Kriel nerens hoegenaamd rassisties was nie, maar net dat hy die waarheid gepraat het. Ek is nie verbaas dat hy kragte met Lekota saamsnoer nie. Hulle deel mos dikwels dieselfe standpunte. Mens kan mos nie jou eiendom verniet weggee nie, daar is niks om oor te onderhandel nie.

Eish ·

Presies. Ek stem heeltemal saam met die motivering vir die gedeelde standpunt.

WL ·

Net nog ‘n strategie deur Cope om die Afrikaner se stem te werf vir volgende jaar se verkiesing. Voordat julle jul stem vir hulle bied, maak eers seker jy ken Mosiuosa Lekota se geskiedenis. Die idioom “wolf in skaapklere” is goed van pas hier.

Heinrich ·

Alles goed en wel, ek wens julle alle sterkte toe. Wil dit nie roep nie, maar wat as die klomp grond-honger aanghangers van die ANC en EFF wel stem dat die grondwet verander moet word, dan is dit mos ‘demokraties’?

Casper Labuschagne ·

En as die Parlementêre komitee bevind dat onteiening, oftewel effektief beslaglegging, te veel ekonomiese skade sal veroorsaak, dan kan die regerende party altyd ‘n referendum hieroor hou en ons kan almal raai wat daardie uitslag sal wees.

Basjan ·

Dit gaan nie oor die stemme wat tel nie, maar oor wie die stemme tel.

Afrikaanse Knaap ·

Dankie manne vir julle moeite. Dis vir my ‘n riem onder die hart wanneer ons so mooi kan saamwerk vir die beste toekoms vir almal in SA.

Stuiwer ·

Dis goed om te sien dat leiers van verskillende partye dieselfde standpunt handhaaf.

Bietjie bietjie ·

Dit is positief
Ek stem saam met hulle samewerking

Hannes ·

Cope gaan net soos die DA “gelabel” word as onderteuners van die wittes en ongelukkig gaan hulle gekruisig word daarvoor.

Nienie ·

Goed so. Dit lyk asof Pierre de Vos nie d verskil tussen eiendomsreg en apartheid ken nie. Ek het my vreeslik vir Pierre de Vos vervies tydens d onderhoud met Kallie Kriel op ENCA. Hy is baie meer verdraagsaam teenoor d EFF, wat duidelik rassehaat aanblaas

lerato ·

Al die partye het redelik gematigde beleide oor grond hervorming. Die EFF en BLF s’n verskil radikaal van die gematigde partye.

Cyril weet dat hy nie ‘n radikale standpunt kan teen gaan nie, dan word hy ‘n counter revolutionary genoem.

Ek glo met Cyril aan die stuur, is daar nie rede tot kommer nie.

Sodra ons sekerheid oor beleid het, sal die ekonomie optel. Ongelukkig sal dit eers na die verkesing wees

Jerry ·

Die gebaar van nierassigheid is voorwaar n riem onder die hart. Sien Kallie jy kan as jy wil, jy moet net meermale wil! Ek hoop ook mense neem kennis dat VF nie regtig meer veel bestaansreg het nie!

Dries du Toit ·

Jerry ou maat. Die VF is n politieke party wat sy deel baie goed doen. Burgerregte organisasies moet finansieel ondersteun word om vir ons regte te veg. Jou kruisie moet gaan vir die poliyieke party wat daai burgerregtel orgs ondersteun

Cornelia ·

Jerry, die hele aksie van Afriforum wat as jy sou oplet, alle mense se belange dien, word ook deur VF+ ondersteun. Geen blanke organisasie of politieke party hou hulle besig met ligsinnigheid nie! Die manne en vroue werk met goeie oordeel om ‘n goeie stryd te stry om geregtigheid en waarheid ‘n fundamentele gespreksfokus te hou en op daardie grondslag die Afrikanervolk se staanplek in sy land met respek af te dwing. Ook die van alle ander minderhede. Jy sien, Goliat en sy Filstyne is deur één man met één klein klippie neergevel in die Gelóóf in ‘n Enige God. En net soos Mordegai ‘n geliefde man onder sy “broers” was, so voel baie van ons oor getroue volksleiers. Hulle veg eerbaar en verstandig. Daarom stem ons vir ons eie met gemoedsrus in die wete dat ons hier ‘n toekoms het wat alle verwagtinge oortref vir die wat glo en doen. Dankie weereens Afriforum,VF+, Solidariteit en elke front organisasie vir julle onblusbare vasstaan in die regte beginsels, oortuigings en geloof. Die vrug van God se genade sal ons land genees tot hoop vir almal.

se net ·

Wel nou is my twee kante bymekaar in die saak. Ek steun jul voluit. En Lekota hou ek al vir 20jaar dop. Hy is een van die min wat reg dink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.