Cope eis inhegtenisnemings van ‘staatskapers’

Cope se Dennis Bloem buite die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria, nadat hy die klagte ingedien het. (Foto: ANA)

Cope het Woensdag klagte teen 15 mense aanhangig gemaak wat die voormalige bedryfshoof van Bosasa (deesdae African Global Operations), Angelo Agrizzi, by beweerde staatskaping betrek het. Getuienis hieroor word steeds by die kommissie van ondersoek, gelei deur adjunkhoofregter Raymond Zondo, aangehoor.

Cope se woordvoerder, Dennis Bloem, het die klagte gister by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria ingedien. ʼn Handvol Cope-ondersteuners het hom vergesel.

“Ek het klagte van korrupsie aanhangig gemaak teen baie senior amptenare van die departement van korrektiewe dienste (DKD),” het Bloem gesê.

Dit sluit in Linda Mti, die voormalige hoof van DKD, Zach Modise, ook ʼn oudhoof van die DKD, Grace Molatedi, ʼn voormalige Vrystaatse streekhoof van die departement, sowel as Patrick Gillingham, die voormalige finansiële hoofbeampte. “Almal van hulle, ek het klagte teen álmal ingedien,” het Bloem gesê.

“Die polisie moet dié sake van bedrog en korrupsie ondersoek. Ons beskou dit as baie ernstig. Mense kan nie by ʼn kommissie van ondersoek uitgewys word en dan net voortgaan asof alles normaal is nie. Nee, dit kan nie só gebeur nie.

“Ons eis ʼn polisieondersoek. Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet dié mense ondersoek en vervolg. As hulle skuldig bevind word, moet hulle tronk toe.”

Agrizzi is een van die vermeende betrokkenes by staatskaping wat die Valke reeds in hegtenis geneem het. Hy word beskuldig van korrupsie, geldwassery en bedrog wat met Bosasa-kontrakte met die DKD verband hou. Mti en Gillingham is ook in hegtenis geneem.

Vrae is aan Bloem gestel oor of die klagte nie mosterd na die maal is nie.

“Hulle is in hegtenis geneem oor ʼn kwessie wat kom van 2009, van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek. Dít is die saak wat hulle nou in die gesig staar, nié die een wat met Agrizzi se bewerings verband hou nie. Dit is twee verskillende sake,” het Bloem gesê.

“Wat betref die SOE se ondersoek moes hulle al in 2009 in hegtenis geneem geword het, maar soos (Mcebisi) Jonas (die voormalige adjunkminister van finansies) getuig het, die Valke, die NVG én die strafregstelsel is gekaap. Dis hoekom hulle nou eers aangekeer word. Dis verskillende kwessies.”

Bloem het gesê Cope se klagte het niks te doen met stemwerwery voor die nasionale verkiesing op 8 Mei nie. “Ek maak al sedert 2015 sake aanhangig. Daar was tóé geen verkiesing nie. Ons, as die Congress of the People, staan vir geregtigheid. Ons sal nooit ophou veg en klagte indien nie,” het hy gesê.

“Dit gaan nie oor die verkiesing nie. Dit gaan oor geregtigheid. Ons wil sien dat korrupsie in dié land uitgewis word.”

Agrizzi het voorheen aan die kommissie van ondersoek gesê Bosasa het tot R6 miljoen per maand in omkoopgeld betaal aan senior amptenare van staatsbeheerde maatskappye soos die poskantoor en die lughawemaatskappy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Arno ·

DIT my vriende van COPE sal nie gebeur nie. Hoekom nie? Want die staatskapers is nog in beheer. cr, mbalula, ace en vele ander nog steeds in zuma en kie se greep. Dit sluit in SAP, NVG, DKD, Valke en ons Howe.

Sies tog! ·

Cope volg seker nie die nuus nie Angelo is reeds inhegtenis geneem hy is uit op borg………………wha hahahahaha. Met die ander stem ek saam.

Dries ·

Dankie COPE!

Ek kon nog nooit verstaan hoekom iemand ni klagtes lê ni…

Arno ·

Hoekom is Desmond Tutu nie by die ondersoeke nie. Daar is baie waarvoor hy onder die tafel kan sit en huil.

fred ·

ag nee Cope…ons tronke is reeds oorvol…..daar is nie plek vir duisende kriminele ekstra…..het ons nie eilande naby die Suid Pool nie??Marion eiland….lekker plek vir hulle…

Jerry ·

COPE moet maar versigtig trap, inteendeel alle opposisiepartye moet versigtig trap, want die feite is dat, wat wetstoepassing aanbetref, die ANC/EFF alle opposisiepartye se tande getrek het met kaderontplooiing in die SAPD en wie nou afhanklik staan van ANC/EFF ideologiee!

Heksie ·

Hierdie is weer net ‘n mors van belastinggeld, niks gaan verder hiervan kom nie

George in Bloem ·

Good luck with that. Let us know how that works out for you. I’m sincerely hoping you can “Cope”with the results. Pfffffftttt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.