Cope onttrek aan parlementêre bedrywighede

Mosiuoa Lekota, die nasionale leier van COPE. Foto: http://www.congressofthepeople.org.za/

Mosiuoa Lekota, die nasionale leier van COPE. Foto: http://www.congressofthepeople.org.za/

Die uitvoerende komitee van die Congress of the People (Cope) het Maandag aangekondig dat hy voortaan nie meer aan enige parlementêre prosesse sal deelneem nie.

Dennis Bloem, woordvoerder van die party, het in ʼn verklaring gesê die besluit is Donderdag tydens ʼn vergadering van die uitvoerende komitee van Cope geneem. Volgens Bloem het die komitee die uitspraak van die konstitusionele hof in die omstrede Nkandla-saak bespreek.

“Die weiering [van die ANC] om op te tree teen die president maak hulle skuldig aan minagting van die hof. Cope se uitvoerende komitee het dus besluit om geen Cope-verteenwoordiger in die nasionale vergadering toe te laat om aan enige verrigtinge deel te neem voordat daar nie duidelikheid van die konstitusionele hof verkry is hoe om voort te gaan nie,” het Bloem gesê.

Volgens Bloem sal die party hom nie skuldig maak deur deel te neem aan aktiwiteite wat minagting van die hof inhou nie. “Ons verteenwoordigers kan nie hul ampseed verbreek nie. Daarom sal Cope, saam met ander instemmende opposisiepartye, die konstitusionele hof nader oor die pad vorentoe.”

Cope se reaksie volg ná die konstitusionele hof se beslissing dat pres. Jacob Zuma versuim het om die Grondwet te handhaaf of sy presidensiële plig na te kom toe hy Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), se bevindinge en regstellende stappe in haar Nkandla-verslag geïgnoreer en van die hand gewys het. ʼn Gevolglike mosie deur die DA om Zuma in ʼn staat van beskuldiging te plaas, het egter misluk toe 233 LP’s teen die mosie gestem het en 143 LP’s ten gunste daarvan.

Bloem het Maandag bygevoeg dat hy Cyril Ramaphosa, adjunkpresident, se uitsprake dat kerkleiers hulle nie by die politiek moet inmeng nie, maar eerder vir die regering moet bid, ten sterkste afkeur. Dit volg nadat Suid-Afrikaanse kerkleiers Vrydag die ANC versoek het om Zuma te dwing om te bedank ná die Nkandla-uitspraak.

“Ons onthou met diepe dankbaarheid hoe geloofsleiers ten tyde van die struggle by die onderdrukte mense gestaan het in hul stryd om apartheid omver te werp,” het Bloem gesê. “Dit kan dalk wees dat adjunkpresident Ramaphosa deur daardie jare van die struggle geslaap het toe mans en vroue in godsdienstige instellings teen apartheid opgestaan en hulle uitgespreek het teen die boosheid daarvan. Cope sal sy volle ondersteuning gee aan enige burgerlike organisasies, godsdienstige instellings en alle ander georganiseerde groepe wat saamwerk om die Grondwet van Suid-Afrika te verdedig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Rynhardt ·

Die feit dat Cope hom onttrek aan parlementere bedrywighede, wys die parlement is baie siek.Die parlement gaan nog sieker raak soos n plant wat jy net nie van sy siekte kan genees nie!

Loeis ·

COPE se redenasie maak sin. Dit is net jammer dat so skuif nog minder opposisie in die parlement gaan laat as wat daar reeds is.

Willie ·

Die parlement moet pasop, soos’n vis van sy kop af vrot word…..

Dawie ·

COPE is darem een politieke party is wat ‘n mate van self respek en integriteit het . Dit is net jammer dat hulle soveel onmin onder mekaar gehad het en baie ondersteuning verloor het.

Wat-ek-lees ·

Eintlik is hulle ongelukkig oor die sirkus se nar(re) en wil dit nie meer bywoon. Werklik mense met verstand.

Henry ·

Cope stel ‘n uitstekende voorbeeld aan alle opposisie partye.
Duidelik dat die parlement tans slegs tot voordeel en beskerming van ‘n korrupte regime misbruik word, ipv om die belange van al die burgers van hierdie droewe land te bevorder.

Soos die onlangse hofuitspraak dit onomwonde aantoon, versuim die praatsirkus met sy onbevoegde speaker(s), om hul grondwetlike pligte uit te voer. Intussen gaan hierdie sirkus onbeskaamd voort om ‘n korrupte president en sy aanhangers se onwettige optredes te beskerm.

Hoe gouer die ander opposisiepartye dieselfde weg volg en hul distansieer van ‘n instelling wat geen respek vir die staat se grondwet en nog minder vir sy burgers het nie, hoe gouer kan die jammerlike spul tot ander insigte gedwing word.

My bydrae ·

Hulle viel vere. As die opposie partye nie meer parlementêre verpligtinge bywoon nie het hul meer tyd om te sit en slaap

ST ·

Goed gedoen COPE. Moet jul nie verder verneder nie. Hopenlik sal die res van die oposisie ook die korrupte regering die rug draai.

M A ·

Ek is nou ‘n bietjie verward. Moet COPE nie juis deelneem om teen die misdrywe te stem nie en om beswaar te maak nie?

humor ·

Stem saam. Alle partye moet met duidelike motivering en regsadvies onttrek sodat die wa se al vier wiele kan uitval. Om M A te antwoord. Ons is tans die slagoffer van n onderdrukkende eenpartystaat sonder integriteit en onvermoe en die opesisiepartye se insette en teenspraak maak nie n vaal kol nie.

Karma ·

Pleks dat al hierdie ou simpel splinter- of onafhanklike party’tjies saamstaan en ‘n koalisie vorm, al is dit net met die oog op die komende Munisipale verkiesings, sodat die ANC goed en deeglik onder sy jis geskop kan word. Nou onttrek COPE van parlementêre verrigtinge. Alles goed en wel, om ‘n punt te maak, maar hulle verswak hiermee die opposisie binne die NV deurdat hulle letterlik een stem vir die ANC ‘gee’. En die ANC het alreeds die meerderheid stemme.

pop ·

Hopenlik sal die res van die partye cope se voorbeeld volg. Nie dat dit enigsins gaan help nie. Niks gaan daai soustrein van die ANC stop nie. Op die ou end gaan SA lyk nes Zim. Of hulle nou steun het of nie, as sulke mense soos Zuma n land regeer sal hy daar bly tot met sy sterfdag.

Plaasjapie ·

Normaalweg sal onttrekking van al die opposisiepartye ‘n hengse probleem veroorsaak in ‘n demokrasie. Ongelukkig in ons geval is daar nie volgens die regerende party sprake van ‘n demokrasie nie. Hulle sal gewoon voortgaan en as een party staat regeer. Die enigste uitweg is dat die mense moet strate toe gaan. As die skoen aan die ander voet was het die land lankal gebrand…sê maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.