Cope onttrek aan parlementêre bedrywighede

Mosiuoa Lekota, die nasionale leier van COPE. Foto: http://www.congressofthepeople.org.za/

Mosiuoa Lekota, die nasionale leier van COPE. Foto: http://www.congressofthepeople.org.za/

Die uitvoerende komitee van die Congress of the People (Cope) het Maandag aangekondig dat hy voortaan nie meer aan enige parlementêre prosesse sal deelneem nie.

Dennis Bloem, woordvoerder van die party, het in ʼn verklaring gesê die besluit is Donderdag tydens ʼn vergadering van die uitvoerende komitee van Cope geneem. Volgens Bloem het die komitee die uitspraak van die konstitusionele hof in die omstrede Nkandla-saak bespreek.

“Die weiering [van die ANC] om op te tree teen die president maak hulle skuldig aan minagting van die hof. Cope se uitvoerende komitee het dus besluit om geen Cope-verteenwoordiger in die nasionale vergadering toe te laat om aan enige verrigtinge deel te neem voordat daar nie duidelikheid van die konstitusionele hof verkry is hoe om voort te gaan nie,” het Bloem gesê.

Volgens Bloem sal die party hom nie skuldig maak deur deel te neem aan aktiwiteite wat minagting van die hof inhou nie. “Ons verteenwoordigers kan nie hul ampseed verbreek nie. Daarom sal Cope, saam met ander instemmende opposisiepartye, die konstitusionele hof nader oor die pad vorentoe.”

Cope se reaksie volg ná die konstitusionele hof se beslissing dat pres. Jacob Zuma versuim het om die Grondwet te handhaaf of sy presidensiële plig na te kom toe hy Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), se bevindinge en regstellende stappe in haar Nkandla-verslag geïgnoreer en van die hand gewys het. ʼn Gevolglike mosie deur die DA om Zuma in ʼn staat van beskuldiging te plaas, het egter misluk toe 233 LP’s teen die mosie gestem het en 143 LP’s ten gunste daarvan.

Bloem het Maandag bygevoeg dat hy Cyril Ramaphosa, adjunkpresident, se uitsprake dat kerkleiers hulle nie by die politiek moet inmeng nie, maar eerder vir die regering moet bid, ten sterkste afkeur. Dit volg nadat Suid-Afrikaanse kerkleiers Vrydag die ANC versoek het om Zuma te dwing om te bedank ná die Nkandla-uitspraak.

“Ons onthou met diepe dankbaarheid hoe geloofsleiers ten tyde van die struggle by die onderdrukte mense gestaan het in hul stryd om apartheid omver te werp,” het Bloem gesê. “Dit kan dalk wees dat adjunkpresident Ramaphosa deur daardie jare van die struggle geslaap het toe mans en vroue in godsdienstige instellings teen apartheid opgestaan en hulle uitgespreek het teen die boosheid daarvan. Cope sal sy volle ondersteuning gee aan enige burgerlike organisasies, godsdienstige instellings en alle ander georganiseerde groepe wat saamwerk om die Grondwet van Suid-Afrika te verdedig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rynhardt

Die feit dat Cope hom onttrek aan parlementere bedrywighede, wys die parlement is baie siek.Die parlement gaan nog sieker raak soos n plant wat jy net nie van sy siekte kan genees nie!

Dawie

COPE is darem een politieke party is wat ‘n mate van self respek en integriteit het . Dit is net jammer dat hulle soveel onmin onder mekaar gehad het en baie ondersteuning verloor het.

Wat-ek-lees

Eintlik is hulle ongelukkig oor die sirkus se nar(re) en wil dit nie meer bywoon. Werklik mense met verstand.

Henry

Cope stel ‘n uitstekende voorbeeld aan alle opposisie partye. Duidelik dat die parlement tans slegs tot voordeel en beskerming van ‘n korrupte regime misbruik word, ipv om die belange van al die burgers van hierdie droewe land te bevorder. Soos die onlangse hofuitspraak dit onomwonde aantoon, versuim die praatsirkus met sy onbevoegde speaker(s), om hul grondwetlike pligte uit te voer. Intussen gaan hierdie sirkus onbeskaamd voort om ‘n korrupte president en sy aanhangers se onwettige optredes te beskerm. Hoe gouer die ander opposisiepartye dieselfde weg volg en hul distansieer van ‘n instelling wat geen respek vir die staat se grondwet… Lees meer »

ST

Goed gedoen COPE. Moet jul nie verder verneder nie. Hopenlik sal die res van die oposisie ook die korrupte regering die rug draai.