Cope ‘weet nie’ Makwarela is onbevoeg

Dr. Murunwa Makwarela. (Foto: Twitter)

Dr. Murunwa Makwarela se eie partyleiers het skynbaar nie geweet hy is onbevoeg om as raadslid en later as burgemeester van die Stad Tshwane te dien nie.

Cope het Woensdag in ʼn verklaring gesê hy is “geskok en teleurgesteld” oor die gebeure in die Tshwane-metroraad, wat toegesien het dat Makwarela verlede week tot burgemeester verkies is, net om Dinsdag te hoor dat hy nie vir hierdie pos kwalifiseer nie.

“Ons is onkant betrap deur inligting in die media dat ons lid (Makwarela) as raadslid gediskwalifiseer is, aangesien hy jare gelede gesekwestreer is en dit dus onwettig was vir hom om enige openbare amp te beklee,” sê Dennis Bloem, nasionale woordvoerder van Cope.

Ingevolge art. 47 en 158 van die Grondwet mag ongerehabiliteerde insolvente persone nie as openbare verteenwoordigers in munisipale rade, die Nasionale Raad van Provinsies of die Nasionale Vergadering dien nie. Makwarela was dus uit die staanspoor ongeskik en onverkiesbaar, hoewel hy aangevoer het dat hy wel gerehabiliteer is.

Cope se Dennis Bloem. (Foto: ANA)

Makwarela het later gesê hy sal sy skorsing as raadslid onder hersiening neem, aangesien net Cope kan besluit of hy verkiesbaar is of nie.

Volgens Bloem was die party se leierskap nie bewus van hierdie “gruwelike oortreding van die wet nie”. Hy benadruk egter Makwarela het wel op die deklerasievorms wat hy moes invul om aan die destydse verkiesing deel te neem, aangedui het dat hy voorheen gesekwestreer is.

“Die inligting sou aan die provinsiale leiers gekommunikeer word, waarna kandidate op grond hiervan gekeur word. ʼn Lys van goedgekeurde kandidate word dan aan die nasionale leierskap deurgestuur,” verduidelik hy.

“Die provinsiale leierskap is dus verantwoordelik om kandidate te identifiseer en die agtergrond van kandidate na te gaan. Ons is ontsettend bekommerd oor hierdie saak en sal alles moontlik doen om vas te stel hoe dit moontlik was vir Makwarela om die keuringsproses te slaag.”

Makwarela dien sedert 2021 as raadslid en speaker van die Tshwane Metro, iets wat Cope se leierskap nou sê iemand aanspreeklikheid voor moet aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Soos wat die anc se militêre vleuel se miekie muis leier ( dwergmalema )en sy lakeie geskreeu het : ” pay back the money”. Al ooit gehoor van jouself in die voet skiet. Nou sit die verraaier sonder niks.

Martie ·

Ek wonder maar net of hierdie ‘n uitsondering of die reël is…

jou gewete ·

snaaks dat n seksie mense in die land ( veral in politiek ) altyd so geskok en teleurgesteld is oor onwettighede wat uitkom. Ook nie een pleit skuldig en maak plek nie. so het laaste twee sg presidente ons mos goed geleer

Anje ·

Is daar enigiemand wat NIE lieg en bedrieg nie? Vaderland. Die land is in sy dinges in !

Hennie ·

Net nog n bewys dat n stem vir n klein politieke party n vermorste stem is. Stem baie versigtig

jou gewete ·

alle stemme teen anc en eff het waarde maaaar, kyk vir wie jy stem, dis wat saak maak

Alex ·

Mens noem dit rekords. Besighede hou dokumente aan van werknemers met alles daarop. Werkgewers moet mos weet wie hulle aanstel. Skande man!

Althes ·

Nou hoe weet julle nie wat onder jul neuse aangaan nie? Maar julle almal is só besig om politiek-politiek te speel dat julle nie besef hoeveel skade julle aan die land en sy burgers veroorsaak nie.
Die ANC en EFF is buitendien hopeloos te veel uitgeslape en gebruik jul net. Dalk het hul dit nog georkestreer dat sy dinge uitgewys word.

skurweberg ·

Cope, julle moet julle parlementslede ook ‘poligraaf” toetse laat aflê. Julle teleurstelling het ek en ander belastingbetalers niks mee te doen.

Ettienne ·

Mmmm …noted… maar is hy volgens Afrika standaarde, dan nie nou hoogsgekwalifiseerd nie?

anko ·

Is weer aangestel. Hoekom het hy nie in die 1ste plek sy sertifikaat ingedien soos vereis word nie. Hoekom nou eers. Dan was al die onnodige dramas nie nodig nie. Iewers strook iets nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.