Corrie Sanders se moordenaars gevonnis

Corrie Sanders

Corrie Sanders

Marinique Sanders het Woensdag gesê sy ongelukkig oor die vonnisse wat haar pa Corrie, se moordenaars opgelê is.

Regter Ferdi Preller het Paida Fish, Chris Moyo en Samuel Mabena, tot 43 jaar tronkstraf elk gevonnis. Hulle is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir moord, 19 jaar vir gewapende roof en ses jaar tronkstraf vir die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Preller het gelas dat van die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word wat beteken die drie is tot effektiewelik 30 jaar tronkstraf elk gevonnis.

“Daar is geen twyfel nie dat die rooftog vooraf en deeglik beplan was en met militêre presisie uitgevoer is,” het Preller tydens vonnisoplegging gesê. “Dit is ook duidelik dat die besluit om onmiddellik skote af te vuur tydens die voorafbeplanning geneem is. Die bedoeling van die skietery sou ongetwyfeld wees om die slagoffers te intimideer en seker te maak daar is geen weerstand nie. Aangesien nie een van die getuies wat getuig het, die afvuur van die noodlottige skoot gesien het nie, is dit onmoontlik om enige bevinding te maak oor die omstandighede waaronder die oorledene geskiet is.”

Preller het gesê hoewel hy “pynlik bewus” is van die gevolge wat Sanders se moord op sy twee kinders, sy ma en die res van die familie gehad het, regverdig sy bevinding dat daar geen direkte bedoeling was om te moor nie, die oplegging van ʼn ligter vonnis.

Sanders se ma Alida, sy seun Dean, sy dogter Marinique en broer Michael was van die familielede wat Woensdag in die hof was. Almal was in trane tydens vonnisoplegging.

Alida het gesê sy het nie woorde om te verduidelik hoe sy oor die beskuldigdes voel nie. Sy het gesê hulle het haar lewe vernietig en dat sy nooit weer dieselfde sal wees na die sinnelose moord op haar seun nie.

Marinique het gesê haar pa sal haar en haar broer nooit sien grootword nie en dat hulle nooit die voorreg sal hê om hom te sien oud word nie. “Die hartseer en verlange sal altyd daar wees, maar dit gaan onder die omstandighede goed met ons en ons is dankbaar vir wat ons het.”

Sanders (46) is op 22 September 2012 doodgeskiet tydens ʼn gewapende roof by die Thatch Haven Country Lodge buite Brits in Noordwes. Hy het sy broerskind se 21ste verjaarsdagpartytjie bygewoon. Sanders is die volgende dag in die Kalafong-hospitaal oorlede.

Hy het naby die ingang met sy dogter Marinique en ʼn neef staan en gesels toe drie gewapende mans die gebou bestorm en lukraak begin skiet het. Hy is getref toe hy voor sy dogter inbeweeg het om haar te beskerm. Hy het reeds skietwonde in sy arm en maag opgedoen toe hy haar na die grond toe getrek en gesê het sy moet maak of sy dood is.

Die drie mans is ʼn paar dae later in Oukasie informele nedersetting naby Brits aangekeer nadat die polisie ʼn wenk ontvang het.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Corrie Sanders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dave ·

Preller maak toe die vonnis vir moord ligter as diè vir gewapende roof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.