Corrie Sanders se moordenaars mag nie appelleer

Corrie Sanders

Corrie Sanders

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag die aansoek deur drie Zimbabwiërs om te appelleer teen hul skuldigbevindings aan die moord op die bokslegende Corrie Sanders, van die hand gewys.

Regter Ferdi Preller het gesê die omstandighede in die saak teen Paida Fish, Chris Moyo en Samuel Mabena regverdig nie ʼn verdere verhoor op appèl nie.

Die drie het aansoek gedoen om teen hulle skuldigbevindings te appelleer en voer aan die hof moes hulle getuienis aanvaar het dat hul die aand van die moord elders was en niks met die rooftog te doen gehad het nie.

Moyo en Mabena wou ook appelleer teen hulle vonnisse van effektiewelik 30 jaar tronkstraf. Naas de Jager, Fish se regsverteenwoordiger, het aangevoer dat die bewyse rakende sy kliënt se arrestasie en die beroofde items wat in sy besit gevind is, nie geloofwaardig is nie.

Leana Augustyn, Moyo se regsverteenwoordiger, het aangevoer dat die hof ʼn fout gemaak het in sy bevinding dat Moyo se vriendin nie sy bewering gestaaf het dat hy die aand van die moord by die huis was nie. Sy meen Moyo se getuienis dat hy een van die gesteelde selfone by een van sy medebeskuldigdes gekoop het, is redelik moontlik waar.

Charles Mabaso, Mabena se regsverteenwoordiger, het die betroubaarheid van die uitkenningsparade, waar sy kliënt as een van die rowers uitgewys is, bevraagteken.

Preller het Fish, Moyo en Mabena Woensdag tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Sanders. Hulle is ook tot 19 jaar tronkstraf gevonnis vir gewapende roof en ʼn bykomende ses jaar tronkstraf vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Van die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en die drie moet effektiewelik 30 jaar tronkstraf uitdien.

Sanders (46) is op 22 September 2012 doodgeskiet tydens ʼn gewapende roof by die Thatch Haven Country Lodge buite Brits in Noordwes. Hy het sy broerskind se 21ste verjaarsdagpartytjie bygewoon. Sanders is die volgende dag in die Kalafong-hospitaal oorlede.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Corrie Sanders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.