Corruption Watch ontvang naasmeeste klagtes ‘sedert ontstaan’

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Suid-Afrikaners was die afgelope jaar toenemend woedend oor ongebreidelde korrupsie wat veral met die aankoop en verspreiding van Covid-19-verwante goedere en dienste aan die lig gekom het, asook die skokkende voorvalle van polisie- en weermagwreedheid.

Die organisasie Corruption Watch sê in sy jaarverslag dit is dus geen verrassing dat hy verlede jaar die naasgrootste getal klagtes sedert sy aanvang in 2012 ontvang het nie. Die grootste getal klagtes ooit is boonop oor die polisie en diegene in die gesondheidsektor ontvang. Klagtes teen die polisie het byna verdubbel en dit word beskou as die land se mees korrupte instelling.

Corruption Watch sê weens die afsonderingsmaatreëls kon mense nie by sy kantore klagtes aanmeld nie en stééds het hy gemiddeld 11 klagtes per dag op sy aanlyn platforms ontvang. Die meeste van hierdie klagtes kom uit Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.

Landwyd is altesame 4 780 voorvalle van korrupsie in die openbare en private sektor aangemeld.

“Dit is met woede en hartseer dat ons moet berig dat die korruptes ook die openbare gesondheidskrisis uitgebuit het om die aankope wat deur Covid-19 genoodsaak is, te plunder en selfs so laag gedaal en van verskillende noodlenigingsorganisasies gesteel het,” sê David Lewis, uitvoerende hoof van Corruption Watch.

Lewis sê terwyl Suid-Afrikaners verenig het om die virus se skade te probeer beperk, het sommige politici, staatsamptenare en sakelui die kans aangegryp om hul hande net dieper in die staat se geldkoffers te druk.

Luidens die verslag is die mees algemene vorm van wandade wat aangemeld is:

  • Wanbestuur (17%)
  • Verkrygingskorrupsie (16%)
  • Bedrog (15%)

Die voorvalle van korrupsie sluit in voldoeningskwessies, ongerymdhede met verkryging en mense wat vra vir omkoopgeld.

Die polisie word in 11% van die klagtes by bewerings van korrupsie betrek, 6% van klagtes hou verband met beweerde korrupsie in skole, 4% geld vir die gesondheidsektor en 3% hou verband met korrupte bedrywighede in die toekenning van rybewyse.

Polisie

Polisie- en weermaglede tydens verlede jaar se streng inperkingstyd. (Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

Corruption Watch sê die getal klagtes teen die polisie het bykans verdubbel in vergelyking met die jaar tevore – meer as 440 is verlede jaar ontvang in vergelyking met die 250 wat in 2019 ontvang is.

Die polisie word volgens die Wêreldwye Korrupsiebarometer (2019) en ook in ʼn studie wat Corruption Watch self verlede jaar gedoen het, beskou as die land se mees korrupte instelling.

“Sy apartheidera-kultuur van straffeloosheid, wreedheid en magsmisbruik het sy weg gevind tot in ʼn demokratiese Suid-Afrika. Dit het openbare vertroue in die polisiediens verminder en die goeie naam van die toegewyde polisiebeamptes wat hul lewe op die spel plaas om Suid-Afrika veiliger te maak, in oneer gebring.”

Die organisasie sê Suid-Afrika gaan gebuk onder stygende vlakke van misdaad en korrupsie en dit word aangehelp deur die einste instellings wat dit moet bekamp. “ʼn Korrupte en wrede polisiediens verhinder ons toegang tot geregtigheid en staan in die pad van ons grondwetlike reg op veiligheid, waardigheid en lewe – dink maar aan Nathaniel Julies, Collins Khoza en talle ander.”

Gesondheidsektor

Talle klagtes oor beweerde ongerymdhede in die gesondheidsektor is aangemeld. (Foto: GCIS)

Die organisasie het ook 149 klagtes oor korrupsie in die gesondheidsektor ontvang.

“Die verswakte gesondheidsektor in Suid-Afrika is jare lank die broeiplek vir korrupsie,” lui Corruption Watch se verslag. Van die klagtes in hierdie sektor het 21% verband gehou met verkrygingskorrupsie, 15% met korrupsie met indiensneming en 11% met bedrog.

Altesame 418 klagtes oor Covid-19-korrupsie is ontvang.

“ʼn Ooreenkoms is gereeld getref tussen oorlogtyd en die stryd teen Covid-19. In ʼn oorlog word die diefstal van veiligheidstoerusting en kos vir soldate as verraad beskou en dienooreenkomstig gestraf. Dieselfde geld ook in die oorlog teen Covid-19.”

Corruption Watch sê dekades lange wanbesteding, diefstal van hulpbronne, verkrygingskorrupsie en omkopery is blootgelê toe die land se hospitale nie kon tred hou met die groot getalle mense wat tydens die Covid-19-pandemie hulp benodig het nie.

“Dit is in die lig hiervan dat ons sê korrupsie is nie ʼn stil ekonomiese misdaad nie; dit het ʼn werklike uitwerking op dienslewering en die verwesenliking van die basiese mensereg op voldoende gesondheidsorg.”

Mynboubedryf

Corruption Watch sê hy hou korrupsie in die mynbedryf ook al etlike jare lank dop. Die meeste korrupsie word met die aanvang van die mynbouproses gepleeg, wanneer gemeenskappe uitgesluit word uit onderhandelings en verdagte ooreenkomste namens hulle aangegaan word – dikwels sonder hul medewete.

Dit het ʼn beduidende uitwerking op die gesondheid en inkomste van mense wat naby die myne woon, terwyl hulle terselfdertyd van die voordele wat hulle toekom, beroof word.

Verlede jaar het Corruption Watch 81 klagtes van korrupsie in die mynbedryf ontvang, ʼn druppel aan die emmer in vergelyking met vorige jare.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nie Verbaas ·

Absoluut niks word gedoen nie. In n staatshospitaal word n tagtigjarige aangese om self toilet toe te loop met n gebreekte heup. Gaan dit help om hulle aan te gee? Nee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.