Cosatu eis óók Zuma se bedanking

Adjunksekretaris Solly Phetoe, sekretaris Bheki Ntshalintshali en Sidumo Sdumo Dlamini. Foto: Gertrude Makhafola/ANA.

Die vakbondfederasie Cosatu het Dinsdag ook húl gewig by dié van talle ander organisasies gegooi en gesê Jacob Zuma is nie meer geskik om die land te lei nie en moet onmiddellik bedank.

Bheki Ntshalintshali, Cosatu se hoofsekretaris, het gesê die verhouding tussen Zuma en die omstrede Gupta-familie sowel as die Nkandla-debakel is van die redes hoekom Cosatu meen die president moet bedank.

“Die feit dat die Guptas nou onregmatige insae gaan hê in die land se doen en late asook die omstredenheid rondom Zuma, soos byvoorbeeld die konstitusionele hof se uitspraak oor Nkandla, het veroorsaak dat ons nie meer glo dat hy die regte persoon is om die land te verenig nie,” het Ntshalintshali in Johannesburg aan verslaggewers gesê ná ʼn vergadering van die uitvoerende komitee van Cosatu.

Dit kom ná Cosatu vir die eerste keer ooit nie geken is in Zuma se besluit om die kabinet te skommel nie. “Ons is nie geraadpleeg oor hierdie besluit nie. Ons dra ook kennis dat sekere lede van die ANC-topses voel dat daar nie genoeg betekenisvolle raadpleging was voor die president die skommeling aangekondig het nie,” het Ntshalintshali verduidelik.

Ntshalintshali het bygevoeg dat die ANC verdeeld is. Sdumo Dlamini, president van Cosatu, het gesê die vakbondfederasie hanteer dit nie goed as hulle nie geraadpleeg word oor kabinetskommelinge nie.

Opposisiepartye het intussen saamgespan om ʼn mosie van wantroue teen Zuma in ste stel. Daar word ook verskeie protesaksies reg oor die land beplan wat Zuma se kop eis.

Zuma is erg gekritiseer oor sy besluit om die kabinet te skommel en Pravin Gordhan as minister van finansies af te dank. Suid-Afrika se kredietgradering is Maandagaand deur die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P) na rommelstatus afgegradeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kiepie ·

Lees mooi, hulle is nie ontevrede met sy besluit nie, hulle is ontevrede met die feit dat hulle nie geken is in die saak nie. Hulle voel ‘n veer vir die meriete van die saak, dit gaan net oor hulle eie plekkie in die magsirkel. Hulle soek iemand wat na hulle pype dans, nie na die Gupta’s s’n nie.

Annie ·

Rommelstatus pas … hulle moet nog net weg doen met die naam SA .. want dit pas nie by die huidige toestand nie … dit is hoekom dorpe en stede se name ook verander het .. want als wat goed / mooi / skoon was is weg

Andre ·

Sover ek weet maak die wet voorsiening daarvoor dat die president se diens beeindig kan word as hy verstandelik -‘ongeskik’ raak.

Laat psigiaters hom evalueer en ongeskik verklaar.

Hy moet verstandelik ongeskik wees te oordeel aan sy irrasionele dade.

SARIE VAN HEERDEN ·

Hopelik sal Cosatu nie ook soos Mathashe en die res van die ANC gat omswaai en by Zuma gaan staan nie. Jy kan Dingaanafstammelinge nie vertrou nie! Ons sit nog vir lank met Zuma. Wel, totdat die staatskaste leeg is en die Guptas pad vat. Wonder of hul Zumpie sal saamvat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.