Cosatu kap Lily-myn oor vasgekeerde werkers

'n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Die vakverbond Cosatu het Woensdag die bestuur van die Lily-myn in Barberton, Mpumalanga, veroordeel omdat hulle glo beweer die maatskappy het nie geld om die nodige hulpbronne beskikbaar te stel om die vasgekeerde mynwerkers te red nie.

Cosatu het tien dae gelede ʼn optog na die myn gehou om druk op die bestuur te plaas om die drie vasgekeerde mynwerkers te “vind” en die vergoeding vir die werkers wat die ineenstorting by die myn oorleef het, te betaal.

Die Lily-myn is onder sakeredding geplaas nadat bedrywighede opgeskort is kort ná die tragiese voorval op 5 Februarie waartydens drie werkers in ʼn skeepshouer ondergronds vasgekeer is. Die drie mynwerkers, Pretty Nkambule, Solomon Nyerende en Yvonne Mnisi, is sedertdien steeds ondergronds en moet nog gered word.

Sizwe Pamla, Cosatu se woordvoerder, het in ʼn verklaring gesê die rede hoekom die werkers nog nie gered is nie, is omdat die bestuur van die myn meer bekommerd is oor winste as die werkers. Dit is dus onaanvaarbaar dat daar steeds geen vergoeding aan die betrokke families betaal is nie wat nou al drie maande sonder salarisse moet klaarkom, het hy gesê.

“Deur nou armoede te pleit, is [die bestuur] oneerlik, want hulle het ʼn produksie-aanleg in dieselfde gebied wat ten volle operasioneel is en wins maak. Hulle maak asof dit nie hul verantwoordelikheid is om na hul werknemers om te sien en hulle te beskerm nie,” het Pamla gesê.

Hy het gesê tussen die regering en die eienaars van Vantage Goldfields is daar genoeg hulpbronne om die drie mynwerkers onder die reuserotse uit te red sonder om enigsins reddingswerkers in gevaar te stel.

“Die federasie is bemoedig deur die Menseregtekommissie (MRK) se instemming om die tragiese voorval te ondersoek. ʼn Duidelike boodskap moet aan die Lily-mynbestuur gestuur word dat hulle nie hul mynbedrywighede mag hervat voordat behoorlike maatreëls vir voorkoming, vroeë bespeuring en ʼn werkbare reddingsplan ingestel is nie.”

Rob Deveraux, die Lily-myn se sakereddingspraktisyn, was nie Woensdag onmiddellik beskikbaar vir kommentaar oor die verwikkelinge by die myn nie.

Verlede maand het 99% van die 180 krediteurs by Lily-myn die nuwe sakeplan om die knelpunte om te keer en die myn weer operasioneel te maak, aanvaar.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Varkie ·

Ek dink tot hulle daar uitgehaal word en dood verklaar word, word hulle nog seker beskou as lewend of dood.. amper soos Schrödinger’s se kat

Mal ·

Net gekke dink daars nog kans vir redding. Mense wat min weet van enigiets.

Gesiggie ·

Ek stem saam Casatu….. hierdie 3 mense moes al lankal uit gehaal geword het…. hul is alreeds vir 4 maande onder die grond begrawe, en hul Familie wil hul graag self begrawe en berusting kry…daar moet iets wees wat gedoen kan word…

Nita ·

Jare gelede het n huisgesin huis en al by Blyvooruitzicht myn in n sinkgat verdwyn. Regdenkende mense het geweet hulle kan nooit uitgegrawe word nie. N klein monument is opgerig by die plek. Dis wat by die Lily myn moet gebeur.

Ella ·

Nita, ek stem saam met jou. Dis tragies , maar hoekom nog mense in gevaar stel

Wat-ek-lees ·

Op 21Maart 1907 verdwyn huise in Springs in ‘n sinkgat tussen Strubenvale/Casseldale en die besigheiidsentrum van die middedorp. Vandag is dit steeds ‘n oop stuk grond met ‘n monumentjie waar klein Robin Tibbott (7jaar) saam met sy ouerhuis verdwyn het.
Neewat Cosatu en Gesiggie, jul weet nie waarvan julle praat nie.
Stel julle eie protospan(ne) saam uit mense wat selfmoord wil pleeg en gaan haal hulle uit.

Anoniem ·

Ella en Nita…gaan lees weer te berig. Daar is geen gevaar meer betrokke as hulle die liggame wil verwyder nie!!!!!!!!!!Dit gaan alles oor geld!!!!!!!!!!!!

Willie E ·

Net lewende mense kan “gered” word…innige simpatie aan die oorledenes,maar hulle oorskot kan slegs verwyder word,hulle kan nie meer gered word nie…..ai mense,dis eintlik soooo “sad”….

Se maar net ·

Te red????? Julle droom man!! Hierdie mense is al maande lank “leweloos” vas gekeer! Dalk moet julle terug skool banke toe!! Maak my so vies!! Sterkte aan die families wat nog elke dag hoop en bid vir hul geliefde se lyke om bevry te word!

Johann Marx ·

Die mens se psige is ‘n vreemde wêreld. Jy wil lyke wat onder die grond lê uitgrawe sodat jy dit in houtbokse kan sit, en in gate terug onder die grond begrawe?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.