Cosatu kasty Ramaphosa en sy administrasie

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Cosatu het nou ook sy kommer uitgespreek oor die bewerings van korrupsie wat onlangs te midde die Covid-19-pandemie aan die lig gekom het.

Die vakbondfederasie doen ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa om sy beloftes rakende die bestryding van korrupsie in Suid-Afrika gestand te doen.

Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, het in ʼn verklaring gesê die bewerings is bloot ʼn herinnering daaraan dat korrupsie die grootste enkele bedreiging vir die voortbestaan ​​van die land en sy ekonomie is.

“Die kanker van korrupsie het hierdie land nie net letterlik in duisternis gedompel nie, maar ook tot die ineenstorting van die ekonomie gelei met miljoene mense wat sukkel om te oorleef.”

Kommer bestaan veral oor die tekortkominge van die president se administrasie te midde van die bewerings van korrupsie.

“Die wanfunksionering en die swakheid van sy administrasie in die lig van hierdie krisis is kommerwekkend. Ons wil [Ramaphosa] daaraan herinner dat hy ʼn belofte aan die land gemaak het om die stryd teen korrupsie voort te sit ​​in die opbou tot Nasrec. Hy het onderneem om weg te doen met die straffeloosheid wat in die vorige administrasie geheers het. Ons eis meer optrede van die president en minder leë praatjies en clichés.”

Cosatu het spesifiek verwys na die onlangse kansellasie van ’n twyfelagtige R100 miljoen-kontrak wat aan die voormalige Eskom-voorsitter Jabu Mabuza se familielid Nomvula Mabuza toegestaan is. Dít nadat Cosatu destyds gekant was teen Mabuza se aanstelling by die kragvoorsiener.

Cosatu

“Die vakbondfederasie herhaal sy oproep vir ’n omvattende openbare forensiese oudit by Eskom om ondersoek in te stel na die ooreenkomste en finansiële transaksies wat die kragvoorsiener op die rand van ineenstorting laat beland het. Dit sluit nie net kontrakte in wat onder die rampspoedige ampstermyn van Jabu Mabuza onderteken is nie, maar ook onder vorige regimes. ’n Gebrek aan aanspreeklikheid is die kern van Eskom se probleme,” meen Pamla.

Hy verwys verder na onlangse bewerings van onreëlmatige tenders vir die verskaffing van persoonlike beskermende toerusting (PPE) in die Gautengse departement van gesondheid wat onlangs aan die lig gekom het.

Maroela Media het vroeër berig Bandile Masuku, die LUR van gesondheid in Gauteng, sy vrou, Loyiso, en die president se woordvoerder, Khusela Diko, is intussen op spesiale verlof geplaas terwyl die bewerings ondersoek word.

“Terwyl werkers deur die dood in die gesig gestaar word, word individue met politieke bande toegelaat om ‘die middelman’ te wees vir verskaffers, wat oormatige en doelbewuste inflasie van pryse veroorsaak. Ons herhaal ons versoek dat die regering PPE direk van werklike vervaardigers koop.”

Cosatu het ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om eerlike selfondersoek te doen en te erken dat hierdie land stadig maar seker besig is om onder die gewig van korrupsie te sink. “Hy moet vinnig optree om die agteruitgang van die situasie onder bedwang te bring.”

Cosatu sê verder die plundering vind op ’n tydstip plaas wat die regering nie sy verpligtinge deur belasting kan nakom nie en hom moes wend tot gevaarlike vlakke van inflasionêre lenings. “As die president en sy administrasie geld in ons naam gaan leen, het ons die reg om te eis dat hulle rekenskap gee oor die wanbestuur van daardie geld.

“Die president moet ferm optree en bewys dat sy administrasie nie ’n magtelose voëlverskrikker met rubbertande is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

johanf ·

Goed van Cosatu, maar ek dink ń bietjie laat…..die grootste skade is reeds gedoen…. Biljoene s’n. !!

Persheks Adri ·

Kom ons kyk of hy gaan reageer… Wat van sy eie kinders ook? Ek vra net

koos10 ·

ANC, COSATU en SAKP. Hulle was mos onaantasbaar. Nou begin hulle mekaar byt.
Maar met die volgende verkiesing stem al die werkers weer ANC.

COSATU, sal julle asb met die volgende verkiesing net weer julle lede aan hierdie kommer herhinder. Julle was teen Zuma gekant en het gehoop dat dit beter onder CR sou gaan. Gaan julle weer hoop dat dit beter sal gaan onder die volgende president? As hy van die ANC is, waarborg ek julle dit sal net nog slegter gaan. Hierdie rondte voel julle werkers ook die slag aan julle sakke met ‘n 0% salaris verhoging. Nog altyd kon die regering huleself uit ‘n gemors uit koop om stemme te kry, maar nou is die geld klaar.

Cabytheron ·

Hulle sal wel ‘n plan maak om kiesers te paai! Ons eie Ramapromisses het dan belowe om duisende poste te skep, waarvan daar net mooi niks gekom het nie! Die kiesers het vir die ANC die pad vir Suid Afrikaners na armoede gelyk gemaak. Hulle almal wil nou inspring. Verniet! Too little too late!! Kry vir julle, al julle kaders. Te laat om bekommerd te raak, die staatskas is leeg!!

Jackie ·

Terwyl Cosatu so lawaai maak oor korrupsie wat die ekonomie verwoes, moet hulle miskien n bietjie verder dink as wat hul neus lank is watter effek onteiening sonder vergoeding op die ekonomie gaan hê.

Jaco ·

COSATU is al dekades lank in alliansie met die ANC. Dit is vir alle praktiese doeleindes deel van die ANC. So eintlik kasty die ANC vir die ANC. Iets maak nie sin nie.

Sarel ·

Cosatu??? Het nog altyd die mense beskerm en noi blameer hulle Rhsmaphosa?? Slaat my met ‘n slap Snoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.