Cosatu kondig landwye staking aan

Cosatu

Die vakbondfederasie Cosatu het Donderdag aangekondig lede gaan ʼn landwye staking teen staatskaping, werksverliese en korrupsie in die privaat en openbare sektor hou.

Dié staking word vir 27 September beplan. Sidumo Dlamini, president van Cosatu, het laat hoor die staking gaan spesifiek oor korrupsie en staatskaping en is nie ʼn eis dat pres. Jacob Zuma moet bedank nie.

Cosatu het intussen ook die DA daarvan beskuldig dat dié party die parlement gebruik om die ANC te probeer onttroon. “Dit is geen verrassing dat die DA vroeë verkiesings wil laat hou nie. Sy hoofdoel is om die ANC te onttroon. Die DA wil die 2019-verkiesings wen en gebruik die parlement om daardie droom te bewaarheid,” het Dlamini gesê.

Die DA het vroeër ʼn mosie vir vroeë verkiesings in die nasionale vergadering ter tafel gelê. Dié mosie sal Dinsdag gedebatteer word.

Die DA het op 9 Augustus aangekondig hy sal die mosie ter tafel lê nadat ʼn mosie van wantroue in Zuma misluk het. Die wantrouemosie het egter tot politieke konflik binne die regerende party gelei omdat verskeie ANC-LP’s ten gunste van die mosie gestem het. Minstens 26 van die party se LP’s het tydens ʼn geheime stemming ten gunste van die mosie gestem.

Dié jongste mosie is deur die DA in terme van artikel 50(1) van die Grondwet ingedien, wat voorsiening maak vir ʼn eenvoudige meerderheidsbesluit om die parlement te ontbind en vroeë verkiesings te hou.

“Cosatu wens vir ʼn verenigde ANC wat in staat is om alle Suid-Afrikaners te verenig. Die ANC is ons bondgenoot en lede moet verenig sodat partye soos die DA nie aanhou om geleenthede uit te buit nie,” het Dlamini gesê.

Dlamini het ook gesê die ondersoek na die staatskaping moenie net tot die staatskaping wat in voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela se verslag uiteengesit is, beperk word nie, maar selfs so ver as die apartheidsera terugstrek.

“Ons sê al lank reeds die staat is lankal gekaap. Ons kan nie sekere terreine van die staatskaping mis of ignoreer nie, ons moet weet wie die tenders by Eskom gekry het lank voor die Guptas nog. Ons moet weet hoeveel ander families het al tenders van Eskom, Denel en SAL gekry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Ek is totaal in die donker met Afrika politiek. Staking word uitgeroep teen al die onheilighede maar nie teen die bron van die kwaad nie. Née, genugtig, dis soos om Whiskey te drink sonder om die bottel se prop oop te maak!

Lizl ·

Ek wonder of hulle aldag self weet wat hulle doen en sè….

Nakkie ·

Gaan seker nou nog breek en brand, en dan kla oor daar nie geld is vir verhogingz nie. Raak ontslae van die monster se kop heeeeel bo, dan kan mens die res begin aanvat.

Frederik ·

Deur die ekonomie verder te verwoes met stakings, kan ook maar gesien word as staatskaping.

snoefie ·

mens sal dink teen die tyd weet cosatu staatskaping en korrupsie het by hulle geliefde pressie begin. nou wil hulle teen die sonder betoig maar benadruk hulle protes sluit nie die sondebok in nie. how belaglik is dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.