Cosatu nié deel van landwye staking

Die leierskap van Saftu kondig hul beplande landswye staking aan (23 April 2018). Foto: Twitter via @SAFTU_media

Die vakbondfederasie Cosatu het Dinsdag gesê hy sal nié deelneem aan die landwye staking teen die voorgestelde minimumloon en sekere wysigings aan arbeidswetgewing wat vir Woensdag beplan word nie.

Die South African Federation of Trade Unions (Saftu) het Maandag gesê hy sal Woensdag op ʼn landwye algemene staking gaan oor “die grootste aanvalle op die werkersklas, vakbonde en die armes sedert die einde van apartheid”.

Saftu het uitgevaar teen die regering se beplande minimumloon van R20 per uur of R3 500 per maand, asook sekere wysigings aan arbeidswetgewing. Die vakbondfederasie sê hy is ontevrede oor die ekonomiese uitdagings wat voortdurend armes en die werkersklas in die gesig staar.

Saftu beweer in ʼn verklaring dat die uitvoerende hoofde van die land se top-100 maatskappye R17,97 miljoen per jaar verdien, wat neerkom op R8 625 per uur. “Tog verwag hierdie hoogs oorbetaalde magnate, saam met hulle nuwe kampioen in die Uniegebou, multibiljoenêr pres. Cyril Ramaphosa, dat werkers en hulle families moet oorleef op net R20 per uur – iets wat hulle nooit in hulle wildste drome vir hulself sal aanvaar nie,” lui Saftu se verklaring.

Saftu het gesê hy sal al sy filiale en bondgenote in die burgerlike samelewing saamroep om daarop aan te dring dat stappe gedoen word om ʼn einde te bring aan die “land se krisis van werkloosheid, armoede en ongelykheid”. Saftu het vakbonde wat verbind is aan Cosatu aangemoedig om hulle ook by die staking aan te sluit.

Cosatu het egter gesê hy is bekommerd oor die “misleidende stellings” van sommige Saftu-leiers oor Cosatu se deelname. “Ons wil dit duidelik stel dat Cosatu nie deel is van die beplande staking nie. Ons veroordeel die kwaadwillige pogings deur Saftu om ons lede te verwar,” het die vakbondfederasie in ʼn verklaring gesê.

“Cosatu ondersteun die nasionale minimumloon en ons het geen rede om te staak oor iets wat tot die werkers se voordeel sal wees nie.”

Die minimumloon sal ʼn groot verandering vir die werkersklas teweegbring wat ʼn verhoging in inkomste vir 47% van die werkerskorps, of ses miljoen werkers, sal beteken – werkers wat tans minder as R20 per uur verdien. “Dít is die grondslag wat ons sal help om op te bou na ʼn leefbare minimumloon,” het Cosatu gesê.

Woensdag se beplande staking is volgens Cosatu gegrond op “wanvoorstellings en bisarre samesweringsteorieë”.

Saftu het die volgende plekke geïdentifiseer waar werkers Woensdag kan byeenkom om van 10:00 af met die onderskeie optogte te begin:

Johannesburg – Newtown Precinct Park
Optog na departement van arbeid, provinsiale departement van gesondheid en premierskantoor.

Kaapstad – Keizersgracht
Optog na kantoor van Stad Kaapstad en die parlement.

Port Elizabeth – Vusi Dlamini Square
Optog na Centenary Hall.

Bloemfontein – Batho-saal
Optog na departement van arbeid.

Polokwane – SABC Park
Optog na departement van arbeid en departement van maatskaplike ontwikkeling.

Durban – Botha’s Place
Optog na Durban-stadsaal, departement van arbeid, departement van ekonomiese ontwikkeling, premierskantoor en burgemeesterskantoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Estelle ·

Ek sien nie dat Pretoria gelys is nie. Daar word seker ook gestaak? Het julle inligting watter paaie affekteer word?

snoefie ·

vertel asb wat gaan die hebsugtiges nou weer breek en brand.

Mielie ·

Uitvoerende hoofde en aandelhouers is in my opinie “overpaid”. Die verbruiker hoes vir alles in die land. Daar behoort n minimum intree loon te wees en dan n loonskaal. Gaan kyk hoe leef die topbestuur. Kyk na hulle perke en voordele…Belaglik. Dis nie net swart mense wat uitgebuit word nie. Daar is baie blankes en ander rasse wat ook uitgebuit word. Kom maand en jaareindes dan sukkel sommige besighede om salarisse en bonusse uittebetaal maar deur die jaar is dit lekker leef. Oorsese vakansies maar werkers kan nie eens hulle salarisse in tyd kry nie.

Annie ·

Nóg ‘n dag van nie werk nie!! Asof daar nie ontstellend genoeg reeds ‘n klomp vakansiedae die afgelope tyd was nie (en ook dié wat nog kom nie)!! Wanneer stop onse president hierdie nonsens?? Geen wonder die ekonomie is wat dit is nie. Word wakker SA!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.