Cosatu ruk op na departement oor Lily-myn

'n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Die vakbondfederasie Cosatu en die vakbond NUM sal volgende week na die departement van minerale hulpbronne opruk om te eis dat die regering die probleme by Lily-myn in Barberton, Mpumalanga sal oplos waar drie werkers al sedert Februarie ondergronds vasgekeer is.

“Cosatu is teleurgesteld in die regering se gebrek aan optrede en toewyding om die persone se liggame na die oppervlak te bring en gestrande werkers te help, wat nou by die huis sit sonder ʼn inkomste,” het die vakbondfederasie Vrydag gesê.

“Mosebenzi Zwane, die minister van minerale hulpbronne, het valse beloftes aan die werkers gemaak nadat R200 000 aan die families van die vasgekeerde werkers en R50 000 aan die beseerde werkers belowe is.”

Cosatu het gesê Zwane het “roekelose beloftes” gemaak wat Lily-myn betref.

“Ons kan nie toelaat dat die minister sulke roekelose beloftes maak en dit dan nie vervul nie. Hy kan nie dié tragedie as ʼn skakelweseprobleem hanteer wanneer werkers se lewens en hul voortbestaan ter sprake is nie. Ons eis dat hy hierdie beloftes vervul wat hy aan die werkers gemaak het.”

Volgens Cosatu wag hy ook nog vir ʼn reaksie van die regering nadat hy ʼn Kommissie van ondersoek sou aanstel om die ramp by Lily-myn te ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig die Kanadese maatskappy, AfroCan Resources Gold het die sperdatum gemis om teen 30 Junie $2,5 miljoen aan Vantage Goldfields, die eienaar van die Lily-myn, oor te betaal. Die geld sou aangewend word vir werkers se salarisse, om die vasgekeerde werkers se liggame na die oppervlak te bring en bedrywighede weer te laat begin. Dit het gevolg nadat AfroCan in ’n onlangse ooreenkoms sou voortgaan om $11 miljoen in die Lily-myn te belê, in ruil vir aandele in die maatskappy en sitting in hul raad.

Vantage Goldfields, eienaars van die Lily-myn, het intussen aangedui hy beplan regstappe teen AfroCan omdat hy versuim het om by die ooreenkoms te hou.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het vroeër gesê die aanhoudende uitsprake van minister Zwane, dat die skeepsvraghouer eers gevind moet word voordat die myn in produksie kan gaan, het reeds een belegger laat onttrek. Dit is dalk ook die rede hoekom AfroCan koue voete gekry het. “Dit gaan R138 miljoen kos om die vraghouer te vind as ʼn skag oor ʼn agt maande tydperk vir dié doel gesink word. Geen belegger is bereid om die koste te dra nie omdat daar geen inkomstestroom is om die lening terug te betaal nie.”

Volgens Du Plessis het die nagenoeg 900 werknemers van Lily-myn sedert die einde van Maart 2016 steeds geen betaling ontvang nie. Lees meer.

Lees alle vorige berigte oor Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.