Cosatu-staking: Hierdie optogte vir vandag beplan

Cosatu se hoofkantoor in Johannesburg. Foto: Twitter via @_cosatu

Cosatu-lede sal Woensdag aan ʼn landwye staking teen staatskaping, werksverliese en korrupsie in die private en openbare sektor deelneem. Cosatu het verlede maand die staking aangekondig en beklemtoon dit gaan spesifiek oor korrupsie en staatskaping en is nie ʼn eis dat pres. Jacob Zuma moet bedank nie.

Verskeie protesoptogte sal oor die land gehou word en memorandums sal by verskeie staats- en private kantore oorhandig word. Van die eise wat in hierdie memorandums vervat sal word, sluit onder meer in dat staatskaping en plundering van openbare fondse aan die lig gebring moet word, behuising vir staatsdienswerkers, algehele afskaffing van arbeidsmakelaars en die volle inwerkingstelling van die Nasionale Gesondheidsversekeringskema (NHI).

Die volgende optogte is vir vandag beplan:

Gauteng:

In Johannesburg sal Cosatu-lede om 10:00 by Cosatu Huis in Braamfontein bymekaarkom van waar hulle na die kantore van Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, die departement van arbeid, die Kamer van Mynwese, FNB en die premierskantoor sal stap. Paaie rondom Cosatu se hoofkantoor sal vir verkeer gesluit wees.

KwaZulu-Natal:

In Durban sal stakers by King Dinuzulu Park (Botha Park) bymekaarkom van waar hulle na die middestad sal beweeg om ʼn memorandum aan die premierskantoor te oorhandig.

Oos-Kaap:

In die Oos-Kaap word optogte in Oos-Londen, Mthatha, Queenstown en Port Elizabeth beplan. In Oos-Londen sal Cosatu-lede by die Noordeinde-stadion bymekaarkom en van daar af na die stadsaal stap om ʼn memorandum te oorhandig. In Mthatha sal die optog strek vanaf Freedom Square tot by die departement van arbeid se kantoor.

Stakers sal in Queenstown by die binnenshuis-sportsentrum in Mdantsane bymekaarkom en van daar na die kantoor van die departement van arbeid en die polisiestasie stap. In Port Elizabeth sal die optog van die Nangoza Jebe-saal in New Brighton 2 tot by die Vuyisile Mini Square in die sakesentrum strek.

‘n Vorige optog deur Cosatu. Foto: Twitter via @_cosatu

Limpopo:

ʼn Optog word in Polokwane beplan waar optoggangers by SABC Park bymekaar sal kom en na die kantore van Shoprite, Anglo Platinum en die premier sal stap om memorandums te oorhandig.

Wes-Kaap:

Betogers sal in Keizersgrachtstraat in Kaapstad bymekaarkom voor hulle na die Passasierspooragentskap (Prasa), die provinsiale regering en die parlement se kantore sal opruk om memorandums te oorhandig.

Noordwes:

Betogers sal by Montshiwa-stadion in Mafikeng bymekaarkom en na die wetgewer betoog om memorandums aan die premier, sakeforum en die kamer van mynwese te oorhandig.

Mpumalanga:

Nelspruit: Betogers sal om 09:00 by die Nelspruit-skouterrein bymekaarkom voor hulle na die kantoor van die provinsiale regering sal beweeg om ʼn memorandum aan die premier te oorhandig.

Emalahleni (Witbank): Betogers sal om 09:00 by Lynville-stadion bymekaarkom en dan na Eskom-park beweeg om ʼn memorandum te oorhandig.

Noord-Kaap:

Betogers sal by die Kemo-hostel in Kimberley bymekaarkom voor hulle na die premier se kantoor in die JB Sauer-gebou sal beweeg om ʼn memorandum te oorhandig.

Vrystaat:

Betogers sal by die Batho-gemeenskapsaal in Bloemfontein bymekaarkom van waar hulle na die kantoor van die provinsiale regering in die Lebogang-gebou sal beweeg om ‘n memorandum aan die premier te oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Karel kraai ·

Is Cusato teen korrupsie, of is hulle teen die DA? Waarom opruk na Herman Mashaba se kantoor? Saxonworld sou dalk meer kon beteken. Eintlik maar pateties.

MM ·

Hoekom Mashaba – gaan na die President se plek toe of die ANC hoofkantoor toe – dit is waar die Korrupsie en bedrog gepleeg word nie by die DA se kantore nie – die DA het al ANC se korrupsie oorgeneem en probeer om dit reg te stel – so julle is na verkeerde plek oppad. Doen dit reg of LOS dit heeltemal uit ASB.

Frikkie (Nie pienk) ·

1) Die staking gaan glo oor staatskaping. 2) Hulle eis behuising vir staatsamptenare en gratis medies vir almal.
Wat gaan die land die meeste kos: 1 of 2 ??

Michelle ·

Hul kry reeds gratis medies, dit is net dat die medies pateties is. RDP huise het hul vir so te se niks gekry met die grond gaan kyk op Gumtree hoeveel van die huise het hulle al verkoop of hul huur dit uit. As hy huis soek moet hy self daar bly maar hul wil 10 families in een klein plekkie bly. Die staatsamptenare steel die kaste leeg so daar is nie geld vir hulle vir huise nie, hulle doen nie eers hul werk nie sit hele dag en eet. Gaan kyk maar by alle staat instansies die back logs soos hul dit noem.

m ·

Niemand wil mee vir iets betaal in hierdie land nie en almal wil net alles gratis he. ek wonder net wie vir alles gaan betaal. Ons tax betalers kan ook nou nie meer nie. Ons is nie miljoeners nie hoor. Dis basies ons wat alles hier aan die gang hou…..

Karma ·

@m – dit is hoekom ek steeds die standpunt huldig dat BTW verhoog word, sommer met twee basispunte, na 16% toe – want dan betaal ALMAL belasting, nie net ek en jy wat ‘n skamele paar rand per maand verdien, in elk geval BTW moet betaal en wurg om maar deur te kom met wat jy einde van die maand kry nie.

Theresa ·

Almal in die land moes gaan stap het. Werkloosheid strek verder as net sekere mense in die land. Die onregverdigheid moet staak – nie nog erger gemaak word nie. Lees elders van die SAKP ensovoorts. Waar in die hele wêreld bestaan daar nog mense wat kommunistiese partye aanhang, behalwe hier???

Haan ·

Theresa ek verstaan ons is almal keëlvol vir die gemors waarin SA is, maar staak is nie die Afrikaner se manier nie. Ons WERK eerder onsself uit n gemors uit as om onsself uit een te probeer STAAK… Wat in elkgeval net nog verder bydra tot die verbrokkeling van die ekonomie waarbinne ons so swaar kry.

Haan ·

Laat my dink aan Siener se stakings visioen. Selfs al is hierdie nie die een wat hy voorspel het nie, dit is definitief n voorsmakie

trudi ·

Haan. … nes jy daar se siener praat van rooi hemp se mou slaan aan die brand veral wat ek weet is dit nog die cosatu self en sy optogte ons moet almal net wakkerslaap. kyk wat gebeur gebeur maar waarskuwings is reeds daar vir i doel.

Soekie ·

..en dit gaan net mooi niks help nie, want Numba 1 gaan hom nie laat afsit nie. So gaan hy en sy maatjies nog ons staatdienspensioen ook leegsteel…een van die dae sit ons almal onder ‘n boom en bid vir kos…terwyl hy en sy familie & vriende in weelde leef…net soos Zimbabwe!!! Tragies!!!!

ANDRE LOUW ·

Ek is ernstig as ek se dat ek dink die massa in die land se verwagtinge is onrealisties. ‘n Voorbeeld hiervan is die feit dat die ANC regering verantwoordelik is vir die meeste probleme in die land maar die meerderheid van die massa stem nog steeds vir hulle. Nou verwag hulle dat dieselfde “leiers” hierdie probleme moet regstel terwyl hulle in geheel nie die vermoe het om dit te doen nie.

Dan is dit ook vir my net onbegryplik dat omtrent geen leier in die wereld kan insien dat die ontploffing van die bevolking die grootste rede is vir die toestand wat vandag heers in die wereld; ‘n wereld wat sy einde moet sien op die wyse hoe dit bestuur word. Al wat jy hoor is meer werkskepping moet geskied maar ‘n bus kan net soveel passasiers vervoer en dieselfde met die wereld. Swak leierskap is al vir dekades die norm en gaan ongelukkig nie maklik verander nie

A ·

Asof die lawwe optogte korrupsie sal stop. Mors van tyd en geld, maar ons strate is vandag ‘n plesier. Skoon, stil en veilig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.