Cosatu verklaar amptelik oorlog teen Mboweni-begroting

Cosatu se hoofkantoor in Johannesburg. (Foto: Twitter)

Die vakverbond Cosatu het nou oorlog verklaar teen die regering se besluit om uitgawes aan staatsdienssalarisse te verminder.

Nadat hulle drie dae lank in Johannesburg vergader het, het die Cosatu-leierskap die voorgestelde besparings in die begroting bestempel as ʼn hinderlaag en ʼn oorlogsverklaring.

Cosatu het die bevindings dat die staatsdiens oorbeman en oorbetaal is, bestempel as ʼn poging om die land se bestuursprobleme op te los op die rug van die werkersklas.

Die regering beplan om sy salarisrekening op medium termyn met meer as R160 miljard te besnoei.

Waar die minister van finansies, Tito Mboweni, se begroting gegrond is op data en syfers, het Cosatu se antwoorde veral berus op retoriek en afleidings. So het Cosatu byvoorbeeld aangevoer die staatsdiens kan onmoontlik te groot wees as basiese dienste steeds nie gelewer word aan soveel Suid-Afrikaners nie. Na produktiwiteit en prestasiemeting het Cosatu nie verwys nie.

Waarmee die vakbond wel gedreig het, is massa-aksie en straatoptogte as die besluit oor staatsdienssalarisse nie herroep word nie. Stakings en diensleweringsontwrigting kan dus verwag word.

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer sy begrotingsrede in die parlement. (Foto: Verskaf)

Die ander slagveld om dop te hou, is die ANC se parlementêre koukus, waarin Cosatu en die SAKP sterk verteenwoordig is, en wie se steun benodig word vir die parlement se aanvaarding van die begroting.

Tydens Donderdag se gesamentlike vergadering van die parlement se komitees oor finansies en begroting was ANC-LP’s egter doodstil oor die staatsdiensrekening – ʼn verdere aanduiding dat gereedgemaak word vir ʼn reusestryd.

Die Suid-Afrikaanse Vakbondfederasie (Saftu) het ook vroeër gesê die aankondiging dat die salarisrekening besnoei gaan word, is ʼn oorlogsverklaring.

Mboweni het tydens sy begrotingsrede uitgewys dat staatsdienswerkers se salarisse en byvoordele die afgelope 15 jaar omvattend verhoog is, en dat die getal staatsdienswerkers van 2006 tot 2011 met 190 000 gestyg het, hoewel dit sedertdien afgeplat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

henndrik ·

Basiese dienste word nie gelewer nie want die wat reeds daar is en groot salarise ontvang is nie produktief nie

Louwrens ·

Ek stem saam jou Henndrik, hulle is onproduktief en defnitief net daar vir die geld. Al wat ek kan se is ons moet maar bid dat GOD ons en ons gesinne sal genadig wees in die tye.

Nie Verbaas ·

En hier kom nog n episode van “Hier gaan ons alweer”

Rooijan ·

As die spul net wil staak deur weg.te bly van die werk af gaan hulle Mboweni se punt 100% bewys, nl niks verander nie. Maar hulle gaan die strate invaar en brand en breek.

Johan Venter ·

Ek sien elders (Beeld) dit beloop so 10,000 poste oor die volgende drie jaar, waarvan die meeste nl 4,500 blykbaar in die polisie sal wees.

marius ·

Drie kaalkoppe eet tesame is nou so ver gevorder dat net die poffer hande oor is . Geniet maar die laaste paar happe liewe kaders .

Snowball ·

Ja Marius, dis nog net die laaste bietjie flenter vleis wat aan die karkas oor is, so dit raak ‘n verbete stryd oor wie gaan wen.

Jaco ·

Iets maak nie sin nie: COSATU is in alliansie met die ANC al vir dekades. COSATU is so te sê die ANC. Mboweni is ook in die ANC. So eintlik verklaar die ANC oorlog teen die ANC. Iets maak regtig nie sin nie.

Johan Venter ·

Jaco, Mboweni het dit in sy begroting ingewerk vir die onthalwe van die graderingsagentskappe. Ons sal sien in hoe verre die ANC regering daarmee sal volhard.

Jannie van Niekerk ·

Hoe vinniger hulle onder mekaar baklei hoe beter vir ware demokrasie. Onthou Afrika demokrasie en regte demokrasie is teenpole van mekaar.

Werner ·

Kok en Kok se maat kry nou stry miskien gaan die karre nou op die bulte staan

Nico ·

Cosatu moet verban word met saam met elke ander unies. Hulle tree nie een in lands belang op nie. Vir unies gaan dit oor die werkers se bydraes wat hulle kan verloor en nie omdat die werker sy werk kan verloor nie. Vakbond leiers leef lekker op die rug van die werker se bydraes en is hulle nou bang om ook aan die ontvang kant van swaarkry te beland.

Johan Venter ·

Ek verwys hier bo in ‘n kommentaar na om en by die 10,000 mense wat in die staatsdiens oor die volgende 3 jaar uit diens gestel sal moet word as die regering doen wat Mboweni in sy begroting beduie het, dit beteken dat daardie mense sal in die private sektor moet gaan werk soek.

Van ekonomiese groei in die land is daar vanjaar weinig sprake en die volgende twee jaar sal dit ook maar beroerd gaan. Oor hierdie tydperk sal daar dan ook jaarliks ‘n paar honderdduisend jong mense die arbeidsmark betree. Waar die staat dus beoog om 10,000 werkers, soos hierbo gemeld af te lê beteken dit dat daardie mense sal in die private sektor moet probeer geholpe raak, terwyl die staat nie nuwe mense in diens sal neem nie.

Dus sien mens dat werkloosheid oor die volgende drie jaar net kán eskaleer.

J ·

COSATU se ‘sell by date’ het verstryk!
… dis net ‘n kwessie van tyd voordat die vakbond disintegreer … soos die DODO uitgesterf het omdat hulle nie kon aanpas nie.

Selfde met die ANC!

Die Kardinaal ·

Natuurlik Cosatu! Die belastingbetaler se sak is mos ‘n bodemlose put. En ag dit maak soveel sin om net aan te hou salarisse betaal terwyl die staatsektor die publiek op alle gebiede faal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.